Broer skiet suster
2008-04-02
’n SPELETJIE het Maandagoggend byna die lewe van ’n elfjarige meisie geëis. Pentzstraat, Wellington, is tot stilte geskok, toe ’n enkele skoot die stilte van die oggend verbreek het. Die amperse treurspel het afgespeel toe Simoné Barends en haar broer Raven (10) by hul ouerhuis te Pentzstraat 46 gespeel het. Albei hul ouers was by die werk tydens die voorval. Hulle het die sleutel van hul pa, Justin, se kluis in die hande gekry, die kluis oopgesluit en ’n .38 pistool daar uitgehaal. Simoné het vermoedelik die magasyn uitgehaal en die vuurwapen vir haar broer gegee. Kort hierna het ’n skoot afgegaan. Simoné is in die linkerbeen getref en die koeël is by haar boud uit. Sy is inderhaas na die Paarl hospitaal geneem waar ’n noodoperasie uitgevoer is. Sy verkeer tans in ’n bevredigende toestand. ’n Mediese beampte het gesê dat dit ’n wonderwerk is dat die slagaar in Simoné se been nie getref is nie, want dit sou waarskynlik noodlottig gewees het. Volgens die wet op besit van ’n vuurwapen, moet ’n wapen in ’n kluis toegesluit wees as dit nie aan die eienaar se liggaam gedra word nie. Die sleutel daarvan moet dan in die lisensiehouer se besit gedra word, of op ’n veilige plek gebêre word. Die eienaar van die vuurwapen, Justin Barends, staar nou ’n klag van nalatigheid en medepligtigheid in poging tot moord in die oë. * A young girl was shot when she and her brother where playing with their father’s pistol.
More
News
|