Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Skouspel oor berg

Skouspel oor berg
 
2008-04-02

Malané Bosman

DIE skouspel van die Paarlberg Maandag, met rookwolke wat uit die kruin borrel soos uit ’n vuurspuwende berg, het inwoners na hul asems laat snak - en daarna na hul kameras en selfone laat gryp.

Die beheerde brand het gister steeds gesmeul.

Amptenare van die Drakenstein munisipale parkeafdeling het verlede week kers opgesteek by die weerburo en weer Maandagoggend die voorspelling geëvalueer voordat die blok ou veld om 10:00 aan die brand gesteek is.

Daar is reën voorspel vir Donderdag (vandag) en nat weer wat die saadskiet van proteas nadelig sou beïnvloed, indien die brand tot ná die reën uitgestel is.

Omdat daar soggens tussen 08:00 en 10:00 steeds wind draai in die berg, is die brand aan die noordekant om tienuur aangesteek.

Brandslaners van die Kaapse Wynland Distriksraad asook lugversterking, is op gereedheid geplaas.

Skaars ’n uur later het die brand oor ‘n brandbaan gespring na ’n blok ou veld verder noord. Drie helikopters met waterhouers is ontbied, asook twee ligte vliegtuie om die situasie te monitor en die waterdraers te stuur na hul teikens.

Die koste vir bystand uit die lug aan die Drakenstein Munisipaliteit kan bereken word op so R60 000 per uur.

“Ons wou nie weer soos verlede keer met die bergbrand tot na die middag wag om die helikopters te ontbied nie,” het ’n woordvoerder gesê.

’n Besluit is geneem om die vuur nie te blus in die blok waarna dit gespring het nie, maar dit eerder aan te blaas sodat dié ou veld ook uitbrand.

“Die veld is 13 jaar oud, en volgens ons brandprogram was hy reg vir brand - vir saadontkieming en ander redes,” het Albert van der Merwe, hoof van parke, gesê.

“Die proteasade lê nou plate in die paaie soos hulle met die hitte oopgeskiet het.”

Met die ou plante van spesies wat hoog staan, word die kleiner spesies onderdruk. Ná so ’n brand is daar ruimte en kom daar plante uit wat in jare nie gesien is nie, ook lelie-soorte.

“Dertien jaar is vanuit ’n botaniese oogpunt aanvaarbaar, maar uit ’n veiligheidsoogpunt is twee meter hoë plante ’n groot risiko in ’n brand.

“Dit het ons nou weer gesien. Die maksimum behoort tien jaar te wees. Terwyl fynbos oor ‘n wye area gebrand het, was daar geen skade aan landbougrond nie.

“Omdat daar Maandag ‘n groter gebied gebrand het as wat beplan was, sal die brandprogram vir die berg nou aangepas word (sien foto onder People).”

* A controlled fire on Paarl Mountain to stimulate protea growth and reduce the risk of run­away fires, turned into a spectacular show.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za