Rubberboot staan sy man
2008-04-03
DIE tweede been van die vier Nasionale Rubberbootbyeenkomste wat aangebied is deur klub FBIBC het die naweek in die Strand plaasgevind met die Wellingtonse span van Agriwire wat weer goeie vorm getoon het. ’n Rekordgetal inskrywings het veroorsaak dat beide die P750 Standaardklas asook die P750 Blueprintklas in twee gelyke bene opgedeel moes word. Vrydag het die eerste van die drie dae begin met baie spanne wat hul bote omgegooi het as gevolg van die sterk wind. In die Blueprint finaal was daar ’n groot ongeluk net ná die tweede rolwegspring. Die span van Emerald Fusion Communications het in die sproei beheer oor die boot verloor en die bestuurder, George van Baalen, het uitgeval. Die boot het skerp na links gespring met die span van Steyn Basson en Jan Kriel in die Agriwire boot, wat onder die Fusion boot deur is. Gelukkig het hulle minimum skade opgedoen. Ongelukkig is die Agriwire span blindelings deur die span van IEC Engineering gevolg. Hulle het bo-oor die Emerald Fire Communications gevlieg en in die proses is die kopman getref. In in ’n skitterende reddingspoging kon hy hospitaal toe gejaag word. Die ongeluk het hom met ’n gebreekte arm en ander kleiner beserings gelaat. Na Vrydag se insident is die finale van dag 1 na die oggend van dag 2 geskuif. Tydens dag 2 het die windstilte vir vinnige tye gesorg en die dag het seepglad verloop. Ten spyte van van uiterste strawwe kompetisie teen van die beste spanne in die wêreld, het die span van Agriwire met ’n konstante vertoning in ’n stewige tweede posisie geëindig. Met net die langafstand been op die laaste dag oor het die weer weereens saamgespeel om te sorg vir hoë spoed aksie. Die wedren het uit 6 rondes bestaan en het ’n totale afstand van net meer as 120km gedek. In ’n opwindende resies het Agriwire sy naam hoog gehou deur derde te eindig. Die volgende streeksbyeenkoms vind 19 en 20 April op die Kwaggaskloofdam buite Rawsonville plaas.
More
News
|