Ou geboue verwaarloos op Wellington
2008-04-03
EK wil graag reageer op die skrywe in die Paarl Post van 27 Maart, oor die swak instandhouding van sekere eiendomme in die Wellington-area, soos die Central Liquors in Kerkstraat. Baie dankie aan Susna du Toit vir haar reaksie, want ek dink Wellington inwoners, wat waardering het vir hul eiendomme, het dit nodig dat daar begin aandag gegee word aan hierdie probleem. Ek persoonlik dink dat daar baie mense in die Wellington omgewing moeg is, en selfs SKAAM is, vir die algemene toestand van sekere geboue in hierdie sogenaamde geskiedkundige dorp. Wellington se historiese beeld verswak en moontlik is een van die redes dalk dat “Heritage” te hoog op die agenda is . In plaas van ou geboue op te gradeer of sloop, bly nuwe ontwikkeling agter en staan ons stil en baklei oor die verlede. Daar is egter ook duidelik nie veel van ’n standaard vir die opgradering van ou geboue nie, want kleurskemas of boustyle wyk duidelik af van die oorspronklike. Ek self is skaam om vriende na Wellington uit te nooi, want veral ook ons Kerkstraat lyk nie na ’n besonderse deurgangsroete vir besoekers wat meer verwag het nie. Neem maar net een voorbeeld soos die “NEL” geboue. Hulle lyk pateties met weinig instandhouding of enige restourasie om aan te pas by ’n dorp met die naam “Wellington”. Die balkonne is met groen skadunet bedek en die stoepe by die sypaadjies val uitmekaar, sies - die geboue lyk net nie goed nie. Staan terug en kyk af in Kerkstraat en jy sien nie veel nie. Daar is wel ’n paar eienaars wat moeite gedoen het en ons is dankbaar vir hul bydraes tot die middedorp se ontwikkeling. Kom jy die dorp in vanaf die Paarl staan die pragtige NG Kerk, baie netjies, op jou linkerkant en foto’s word selfs geneem deur besoekers, maar regs van jou staan twee “blou” huise wat verwaarloos voorkom en vandaar die parkeerareas na onder, en voor die nuwe eetplek oorkant die kerk, is daar ou beskadigde staal-omheinings wat uitmekaar val en slegte indrukke gee van armoede of swak smaak. Ek dink persoonlik dat Wellington baie afsteek by ’n dorp soos Franschhoek en dat al hoe meer mense hierdie probleem begin raaksien en daaroor praat. Sekere besighede voldoen geensins aan enige wetlike veiligheidsregulasies, netheid of higiëne nie. Dit is duidelik dat as jy so deur die dorp ry, kan jy sien hoe besighede selfs sypaadjies gebruik om hul voorraad op te stoor en rotneste skep in agterplase. Daar is duidelik nie veel munisipale reëls vir brand bestrydingstoerusting, voorkoming of rotplae in sekere areas nie. Wellington kort ook winkels wat die gemeenskap kan bedien. Dit wat ons hier het, kan beslis nie vir die gemeenskap voorsien aan hul behoeftes nie en die voorraad is net nie altyd daar nie. Daarom ry baie van die dorp se inwoners na ander sentrums om hul inkopies daar te gaan doen, maar vir hoe lank nog met die duurder brandstofprys? Wellingtonners kom ons staan saam en maak ’n plan, want anders gaan julle agter bly. Dit het ook tyd geword dat die plaaslike Munisipaliteit sy kant bring en aandag gee aan vuil en vervalle eiendomme. GB
More
News
|