Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Twee sangers by die Meul

Twee sangers by die Meul
 
2008-04-10


TWEE sangers, Marinha en Christo Snyman, tree Saterdag om 20:00 op by die Ou Meul-teater.

’n Nuwe ster het ontluik en Afrikaanse musiekliefhebbers sal juig oor dié fonds! Ja, buiten dat Marinha ’n treffende stem het, is sy boonop ’n briljante liedjieskrywer.

Marinha se debuutalbum is in Junie 2005 bekend gestel en sedertdien speel RSG weekliks van haar liedjies. Sy sing deesdae voltyds en is vinnig besig om die suksesleer te klim.

Haar CD, Eggo’s, is op ’n volwasse mark gerig en die meeste van die 13 liedjies vertel stories wat sy op haar lewenspad saam met haar gebring het.

“Mense dra mos maar stories op hul gesigte. Ek hou daarvan om oor die swaarkry én die lekkerkry van die lewe te sing. En ek skryf oor régte issues wat met mense gebeur.’’

Kaalvoet deur my drome is tans Christo se tweede album wat Ek En Jy opvolg. In 2002 raak hy betrokke by ’n organisasie wat Eleos genoem word en hy raak so verdiep in die daaglikse swaarkry van mense dat hy vir hulle ’n eie liedjie skryf en daarmee fondse begin insamel om ’n bydrae te maak om dié te help wat dit regtig nodig het.

Aan die einde van dieselfde jaar word hy aangewys as die algehele wenner van ATKV se Afrikaanse Idols. Hy wen die kompetisie tussen duisende met een van sy eie liedjies Ek en Jy.

In 2007 skryf hy ’n volgende album met 12 liedjies uit sy eie pen.

Die album verdien die naam Kaalvoet omdat alles uit die hart kom en reguit in die gesig val, sonder maskers en voete met skoene aan.

Die grondpad wat hy moes loop, word duidelik gehoor as ’n mens na die liedjies luister.

Kaartjies is R60. Skakel Vicky Stemmet by 083-564-0056.

Dié twee sangers bied ’n gratis vertoning vir senior burgers Maandag 14 April om 10:00. (Dis nou bo 60 vir dié wat wonder.) Besprekings noodsaaklik!

Vertel sommer vir jou buurvrou en die oom wat gras sny ook daarvan, laat hulle kom kultuur en koffie. Klink vir my na ’n goeie manier om die week te begin!




More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za