Spesiale dag by monument
2008-04-10
INTERNASIONALE Monumentdag word 18 April vanjaar by die Taalmonument gevier met ’n kulturele en omgewingstaproete. Die verskillende stasies op die roete sluit praatjies in oor die wortels van Afrikaans, idiome-kompetisies vir kinders en volwassenes en ’n skattejag wat fokus op die natuurlike erfenis van Paarlberg. Op die spel is ’n medalje van die Taalmonument, geskenkbewyse en T-hemde. Daar sal ook ’n spesiale verrassing vir plaaslike besoekers wees. Belangstellendes is welkom van 09:00 tot 16:00. Tot 120 leerders van Dalweide Primêr sal Internasionale Monumentdag bywoon, moontlik gemaak deur die Taalmuseum en monument se Borg-’n-bus-projek. Hierdie spesiale dag skep bewustheid te oor die diversiteit van wêrelderfenis en oor die werk wat nodig is om dit te beskerm en te bewaar. Die tema is Godsdienstige erfenis en heilige plekke. Die Taalmonument herdenk die diverse erfenis van een van die jongste tale in die wêreld, ’n taal met wortels nou verweef met godsdiens. Arabies-Afrikaans was een van die vroegste soorte Afrikaans aan die Kaap. Baie slawe het die Islamitiese geloof aangeneem, en het die Koran leer verstaan deur teksgedeeltes uit te skryf in Kaapse Afrikaans, met die Arabiese alfabet van Abu Bakr Effendi. Hy het die Kaap in 1860 besoek en die Arabiese alfabet aangevul om Afrikaanse klanke weer te gee. Tussen 1870 en 1950 is 78 boeke in Arabiese Afrikaans geskryf. Net so het godsdiens ’n rol gespeel in die totstandkoming van die Eerste Afrikaanse Taalbeweging. Ná die tweede Britse oorname van die Kaap in 1806 is ’n streng verengelsingsbeleid ingestel. Arnoldus Pannevis, ‘n Nederlander wat in 1866 in die Paarl aangekom het om skool te gee aan die Paarl Gimnasium, was ’n diep godsdienstige persoon en was baie gretig dat die Bybel in Afrikaans vertaal moes word. Hy het na die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap geskryf wat gelei het tot die totstandkoming van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) en die eerste Afrikaanse Bybelvertaling. Vir meer inligting, skakel 021-872-3441.
More
News
|