Olyffees in Riebeekvallei
2008-04-10
VERLUSTIG jou in egte Swartlandse gasvryheid, verruklike kos en musiek tydens die jaarlikse Riebeekvallei Olyffees op Saterdag, 3 Mei en Sondag, 4 Mei. Allesverloren Landgoed bied hul jaarlikse Opera-aand op Saterdag 3 Mei met die klanke van die parmantige vroulike sanggroep, Da Capo Quartet, en ’n genotvolle driegang Mediterreense ete. Hierdie hoogs begaafde viertal – Hanlee Louw, Pauline du Plessis, Elizabeth Frandsen en Rika Vermeulen – sal gaste vermaak met hul besonderse repertoire wat wissel van Opera tot musiek uit Broadway musiekblyspele en goeie ou jazz van vroeër jare. Die aand begin om 18:00 en kos R150 per persoon. Sondag 4 Mei kan ’n heerlike ontspanne driegang-middagete belaai met tradisionele lekkertes geniet word met instrumentale musiek wat sorg vir ’n luilekker atmosfeer. Die middagete begin om 12:00 en kos R125 per persoon (R65 per persoon vir kinders jonger as twaalf). Deurentyd oor die naweek kan smullekker brood- en kaasborde met tuisgemaakte lekkernye soos koue vleise, kase, konfyt, slaaie, patees en olyfbroodrolletjies geniet word asook musiekvermaak. Bespreking noodsaaklik by Anchen by Allesverloren by 022-461-2320 gedurende kantoorure.
More
News
|