Standards op standaard
2008-04-10
YOUNG STANDARDS het Saterdag sy seisoen-veldtog goed afgeskop toe hy Vineyards goed laat les opsê het op die Boy Louw sportgronde. Standards se eerste span het met 14-0 gewen. Standards het reeds vroegdag begin met goeie rugby toe die o.14 span Vineyards geklop het met 43-31. Daarna het die 3de span die momentum verder gevat deur hul opponente met 13-0 te klop. Die 2de span het met 30-0 gewen waarna die eerste span die kersie op die koek gesit het deur hul wedstryd ook te wen. Die eerste span wedstryd was gekenmerk aan harde rugby en Vineyards het in die eerste 20 minute geweldig druk geplaas op Standards se doellyn. Standards het egter koelkop gebly en Vine- yards weg van hul doellyn gehou met goeie verdediging. Kort voor die eerste helfte is die bordjies verhang en Standards het begin om hul goeie verdediging te omskep in aanval met Emelia Jacobs wat agter die doellyn gaan kuier het. Enrico Davey het die drie verdoel. Met die rustydtelling op 7-0 was daar in die tweede helfte geen teken dat Vineyards kon terugkom in die wedstryd nie. Standards het met goeie spel die een aanval na die ander geloods, en is uiteindelik beloon met ’n tweede drie deur Bevan Francis. Davey het weereens die drie verdoel met Standards wat ’n goeie oorwinning van 14-0 behaal het. Standards speel Saterdag teen Laer Paarl op Daljosafat. Die Junior-spanne begin om 10:00.
More
News
|