Albions verloor in laaste minute
2008-04-10
ALBIONS kon tydens Saterdag se rugbykragmeting met Hands and Hearts in die Paarl net-net nie die knoop deurhaak nie, met die besoekers wat kort voor die einde die wendrie gedruk het om die wedstryd met 22-15 te beklink. Met 5 minute se speeltyd oor en die telling op 15-elk was die wedstryd steeds in die weegskaal. Albions kon uiteindelik net nie die druk wat die besoekers op hulle geplaas het volhou nie. Hands and Hearts het die wind goed tot hul voordeel gebruik, ’n skoppie vorentoe te gee en ’n drie in die hoekie te druk. Die besoekers se skopper het die drie verdoel en die telling het geëindig op 22-15. Ondanks die verloor het Albions agterlangs goed vertoon, met die losskakel, Everit Jacobs, wat Albions op die voorvoet gehou het. Daar was deur die loop van die wedstryd ook min te kies tussen lostrio van die twee spanne, alhoewel Albions dalk net-net die oorhand in dié afdeling gehad het. Dit was juis Albions se woelwater flank, Elrich Erasmus, wat as die speler van die wedstryd aangewys is. Vir die tuisspan het Erasmus en die slot, Eugene Bosman, drieë gedruk, met Jacobs wat met ’n strafskop en ’n doelskop na die pale geslaag het. Albions se 2de span het hul wedstryd met 7-22 verloor, terwyl die 3de span ook vasgeval het met 15-20. Albions speel Saterdag in ’n wegwedstryd teen Elsiesrivier. Die bus vertrek om 11:00 vanaf Simfonielaan 189. Kostes beloop R20 vir toeskouers en R15 vir spelers.
More
News
|