Fietsry op belowende trap
2008-04-10
DIE naweek se fietsry-byeenkoms wat deur Peco Fietsryklub op die Faurestraat-stadion aangebied is, het gesorg vir uitstekende wedrenne uit die boonste rakke. Top fietsryers van die WP en Boland het hul staal getoon tydens die byeenkoms deur die Paarlse klub. Ryers het ook hul huidige vorm op die proef gestel met die oog op die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe wat van 24 tot 26 April in Port Elizabeth gaan plaasvind. Die deelnemers wat as die beste fietsryers in hul onderskeie kategorieë aangewys is, is JC Jantjies (o.12, Yorkshire), Bradwin Daniëls (o.14, Peco), Evan Carstens (Junior mans, Harmony), Garth Thomas (Elite, CSC Marcello) en Faizer Hendricks (Veterane, Bellville). Die 1500 meter vir Elite Ryers is op uitstekende wyse deur Juan Smith (Tygerberg) gewen nadat hy in die laaste ronde die res van die bondel totaal onkant gevang het. Die Punte Wedren in die Elite Wedren is deur Garth Thomas gewen terwyl die o.14 fietsryer, Bradwin Daniëls, ook uitstekend gevaar het in die o.16 afdeling. Die wenner in die ontwikkelingswedrenne was Gheslin Cooper van Atlantis. Brent van Rooyen en Emmanuel Mankopan het ook goeie vertonings gelewer. Mankopan het ’n goeie 2de plek in die 5 rondes Voorgee Wedren vir o.14’s en o.16’s behaal. Een van die hoogtepunte van die byeenkoms, die Madison Wedren, is gewen deur Dan Hopt (Mr Price) en Kenneth Ketterer (Tygerberg). Hulle het afgereken metEvan Carstens en Stefan Ellingfeld (Harmony). Met die groot getal fietsryers wat vir die byeenkoms opgedaag het en die standaard wat hiertydens ten toon gestel is, kan daar beslis ’n blink toekoms in Suid-Afrikaanse fietsry verwag word.
More
News
|