Peoples verloor riller
2008-04-10
YOUNG PEOPLES het Saterdag op Daljosafat so byna vriend en vyand verras toe hul met die laaste beweging van die wedstryd met 19-21 teen Collegians vasgeval het. Die Tiere het tydens die eerste helfte verwoed aangeval, maar kon nie daarin slaag om enige punte aan te teken nie. Collegians het rustyd gerieflik voorgeloop met 13-0. Peoples het egter in die tweede helfte hul ritme gevind en met Francois Julies aan die spits het die voorspelers beheer oor die wedstryd geneem. Die giftige skopvoet van Delwayne Cornelissen het ook gehelp om Peoples in die wedstryd te hou. Cornelissen het 3 strafdoele, ’n doelskop asook ’n skepdoel behaal. Na ’n drie deur Oswill Thomas het die Tiere die voortou geneem. Peoples se verdediging was deurgaans bestendig en het die besoekers heel wedstryd onder druk gehou. Oorywerigheid en swak besluitneming het egter verhoed dat Peoples die wedstryd in hul guns swaai. Na ’n blaps op die verdediging het die vleuel van Collegians in die hoek oorgeduik om Peoples se lot te verseël. Vir die Tiere was Ben Martin weer ’n yster in die middelveld met sy kronkellopies en hegte verdediging, terwyl die ligte voorspelers van die tuisspan die swaar voorspelers van Collegians deeglik in toom gehou het. Onder die laer spanne het Peoples ook deurgeloop. Peoples II het vasgeval met 0-23, terwyl die derdes met 3-24 verloor het. Saterdag speel Peoples op Daljosafat teen Pniel Villagers.
More
News
|