Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Nuwe uitstalling by museum tref

Nuwe uitstalling by museum tref
 
2005-06-29


DIT het beslis die “wow-faktor”, sê diegene wat al die nuwe indrukwekkende uitstalruimte in die Wellington Museum te siene gehad het.

Die uitstalling, saamgestel deur kurator Ansie van Vuuren in samewerking met die Museum Tegniese Dienste van die Wes-Kaap, is verlede week geopen.

Volgens Van Vuuren het die uitstalling veral ‘n sterk opvoedkundige fokus.

Dit bevat interessante inligting oor die landskap en natuurlike omgewing rondom Wellington, met ‘n fokus op die eerste inwoners van die Wamakersvallei.

Dr Jeanette Deacon, vooraanstaande argeoloog en voorsitter van Erfenis Wes-Kaap, het met haar waardevolle insigte oor die onderwerp die uitstalling verder belig.

Die inligting word in Engels, Afrikaans en Xhosa aangebied met muurpanele van die vloer tot die dak.

Illustrasies wissel tussen landskapsfoto’s en plante uit die omgewing tot sketse van Khoekhoen vetstertskape en ‘n mens uit die Steentydperk.

Die uitstalling bring hulde aan Wellingtonner Frans Malan, wat danksy sy belangstelling in geologie en argeologie ‘n studie gemaak het van klipwerktuie rondom Wellington.

Danksy slim driedimensionele uitstalpanele word die museum se waardevolle versameling van veral Malan se versameling klipwerktuie ten beste uitgestal.

Die oudste klipwerktuie wat in die Wellington-omgewing aangetref word, is deur Homo erectus (regopstaande mense) vervaardig en dateer uit die Vroeë Steentydperk, ongeveer 2,5 miljoen tot 250 000 jaar gelede.

Die uitstalling sluit ook Vroeë, Middel- en Latere Steentydperk werktuie in wat nie uit die Wamakersvallei kom nie, maar wat Malan by Stilbaai, Hangklip, Strandfontein en Robberg versamel het.

'n Interessante artefak is ‘n Stilbaai-punt (‘n blaarvormige driehoekige kliplempunt) wat gebruik is om visskubbe af te skilfer gedurende die Middel-Steenperk.

Dit is so vernoem deur prof Astley Goodwin, die eerste Suid-Afrikaner wat as argeoloog gekwalifiseer het, en wat onder die uitgelese akademici getel het wat Malan op sy plaas Groenvlei besoek het.

Die uitstalling sluit goed aan by die bestaande inligting oor die dorpsgeskiedenis en belangrike figure wat reeds daar te sien is.

* The new exhibition at the Wellington Museum has been launched.



More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za