Kavaliers herwin vorm
2008-04-10
Jaco van Wyk
ONDANKS die verloor wat die Kavaliers twee naweke gelede op Vredendal opgetel het, het die Bolanders die naweek weer hul goeie vorm herwin deur die Griffons in styl met 53-29 af te ransel. Die Kavaliers het van meet af die tempo op Welkom bepaal, met die lostrio van Francois Prinsloo, Whalied Heyns en Zolani Mofu wat uitstekend na die afbreekpunte gespeel het om omgekeerde besit te bewerkstellig. Agterlangs het die skakelpaar van Dewaldt Duvenage en Elgar Watts goed in hul taak geslaag om die agterlyn aan die gang te kry wat aan die Wellingtonners ’n gevaarlike vonk agterlangs verskaf het. Hierby het die Bolanders ook goed afgerond. Soos altyd die geval is, het die skrum van die Kavaliers sake bemoeilik vir die opposisie. Met Jean Botha op die vaskop, Conrad Burke op haker en Janro van Niekerk wat die skrum op loskop geanker het, was die res van die Bolanders toegelaat om met die bal te baljaar. Volgens Denver Pienaar, spanbestuurder van die Kavaliers, was dit aan die begin van die seisoen die Bolanders se doelwit om die Vodacombeker te wen. “Dit is egter steeds ons doelwit, alhoewel die twee verlore wat ons langs die pad opgetel het - een teen die Blou Bulle op Brits en een teen Griekwas op Vredendal - ons veldtog bietjie ontspoor het,” sê Pienaar. “As ons vir Vrystaat op Bloemfontein kan troef, het ons steeds ’n realistiese kans om die reeks te wen.” Vir die Kavaliers het John Daniels en Piet van Zyl elkeen twee drieë aangeteken, met Francois Pretorius, Dries van Schalkwyk en Conrad Burke wat ook elkeen ’n vyfpunter behaal het. Justin Peach het met 6 doelskoppe en 2 strafdoele geslaag.
More
News
|