Geen keer aan Blaauw
2008-04-10
Jaco van Wyk
DAAR is eenvoudig geen keer aan Jacques Blaauw nie. Dié oud-Gimmie is besig om al wat ’n gholftitel is in te palm. Die SA Amateurkampioen het die naweek weereens bewys dat sy sukses op die gholfbaan beslis nie aan geluk te danke is nie toe hy die Bolandse Geslote Kampioenskapstoernooi op Worcester gewen het. Die Paarliet en oud-Gimmie het die toernooi met 140 houe (4 houe minder as baansyfer) gewen. Blaauw het met die oorwinning ook sy spanmaat van die Boland, Hendrik van der Berg, geklop. Van der Berg het self goed gevaar en ’n tweede plek in die toernooi beklee met 141 houe. Volgens die 21-jarige Blaauw was die kampioenskap op Worcester ’n regverdige toernooi wat toestande aanbetref, behalwe vir die feit dat die wind aan die einde die spelers se geduld bietjie op die proef gestel het. “Ek voel ek het die bal lekker geslaan op Worcester, maar my sethoue kon beter gewees het. “Met vyf gate oor het die wind egter bietjie opgetel. “Ek het maar besluit om my natuurlike spel te speel en dit het vir my gewerk op die ou einde,” sê Blaauw. Blaauw het reeds vanjaar die SA Amateur houespel-kampioenskappe in die Paarl asook die SA putjiespel-toernooi vir amateurs in Durban gewen. So wat is volgende op die lys vir die jong gholfspeler? Blaauw vertrek vandag na George waar hy in die Cape Province Toernooi gaan deelneem. “Ek het die toernooi in 2004 gewen, so hopelik kan ek weer so maak. Ek is tans goed op dreef en solank ek positief bly is enigiets moontlik.” Volgende Donderdag vertrek Blaauw na Zambië waar hy Suid-Afrika in die Zone 6 toernooi gaan verteenwoordig.
More
News
|