Feëwêreld word nagmerrie
2008-04-10
’n JONG vrou het verlede Vrydag angswekkende oomblikke beleef, toe sy deur ’n gewapende rower aangehou is. Die aanval het plaasgevind by World of Fairies, Klapmuts, toe ’n man met ’n wit Nissan voertuig by die feetjie-sprokieswêreld aangeklop het. Hy het vir die toesighouer Davine van Rooyen (23) gesê dat hy vir ’n vriendin wag en gevra of sy sal omgee as hy daar sit en ’n sigaret rook. Volgens Davine het hy daarna in die winkel rondgeloop en toe sy weer omdraai, het sy in die loop van ’n vuurwapen vasgekyk. Sy is gedwing om op die vloer te lê en die rower het vir haar gedreig en gesê dat hy haar sal doodmaak as sy skree. Hy het agter die toonbank verdwyn, die kontanttrommel gegryp en die hasepad gekies. ’n Hoogs getraumatiseerde Davine was Maandag steeds te geskok om te gaan werk. Noeline van Zyl, eienaar van World of Fairies, het gesê dat sy in die gebou langsaan was en slegs van ’n afstand af die man en sy voertuig raakgesien het. Nou sit sy met haar hande in haar hare na hierdie voorval, want volgens haar word World of Fairies al ’n geruime tyd lank geteiken deur diewe en vandale. “Na Vrydag se gewapende roof, het ons weer dieselfde aand slagoffers geraak van booswigte. “Die deur na die winkel is oopgebreek, en verskeie goedere in die winkel is doodeenvoudig stukkend gebreek. “Gewoonlik steel hulle net koeldranke uit die yskas, maar die skade wat hulle aanrig, is geweldig. “Dit was die vierde inbraak sedert Desember en ek is nou moedeloos. Dalk moet ek net my deure sluit, want ek ly net ’n verlies.” ’n Woordvoerder van die polisie het gesê dat hulle tans ondersoek instel of die rower verbind kan word met ander rooftogte in die gebied. Die verdagte is lank en skraal met ligte hare, en vermoedelik in sy laat dertigs of vroeë veertigs. Enigiemand wat die polisie kan help met hul ondersoek kan insp Rogerio Carosini skakel by 021-875-5555. * The magical World of Fairies out- side Klapmuts has become the target of robbers.
More
News
|