Vrou verkool in brand
2008-04-10
Lise Beyers
’n LIEFDESDRIEHOEK het vermoedelik gelei tot die branddood van ’n vrou in Greenfields, Paarl-Oos. Die tragedie het Sondagaand kort na middernag afgespeel, toe ’n HOP- huis aan die brand geslaan het. Die huis was binne enkele oomblikke deur vlamme verswelg en volgens ooggetuies wat met hul slaapklere nader gehardloop het, was dit te laat om te help. Bure vertel dat hulle vir Leah Claasen (31) by een van die vensters gesien het waar sy om hulp geroep het. Die dak het egter meegegee en hierna was daar stilte. Haar vriend Jakobus de Bruin het daarin geslaag om by ’n venster agter die huis na veiligheid te duik, maar nie voordat hy ernstige brandwonde opgedoen het nie. Nadat die brand deur die Drakensteinbrandweer geblus is, is daar op die verkoolde lyk van Claasen afgekom. De Bruin is na die Paarl Hospitaal geneem met brandwonde oor sy hele lyf. Hy het vanuit sy hospitaal bed gesê dat hy en Leah omstreeks 02:00 wakker geskrik het met die huis vol rook en groot vlamme aan die voorkant. “Ek het dadelik opgespring en vir Leah gegryp, maar sy het haar teen my verset. Ek dink sy was te geskok om eintlik te besef wat aangaan. Om my eie lewe te red moes ek by ’n venster uitduik.” Volgens ’n buurvrou in Mosesstraat, het ’n voormalige vriendin van De Bruin, Lizzie Alexander (39), vroeër die aand vir haar kom sê dat sy die huis aan die brand gaan steek. “Ek het haar nie geglo nie, maar later is ek deur haar wakker geklop en sy het gesê sy het dit wel gedoen. Ek die flikkerende lig van die brand gesien, en met skok besef wat gebeur het.” Alexander het Woensdag in die Paarl Landdroshof verskyn op aanklagte van brandstigting en moord. * A woman burnt to death, after her house was presumably set alight by a previous girlfriend of her boyfriend.
More
News
|