Skade op die berg na brand 'n skok
2008-04-10
DIT is verbasend hoeveel Paarliete die onlangse brand op Paarlberg met stilswye begroet het. Dit was wel ’n gesprekspunt toe dorpenaars en boere kon sien hoe die vlamme en reuse-rookwolke ure lank bo-op die berg uitgekring het. Maar nadat alles verby was, heers daar stilte. Die rede hiervoor is dat die reuse-omvang van die brand nie van die dorp se kant waarneembaar is nie. Dit is egter ’n ander storie as jy van Paardeberg of Malmesbury se kant dorp toe ry. Daardie noordelike deel van die berg het feitlik heeltemal afgebrand. Sake lyk nog erger wanneer jy die Paarlberg-reservaat binnegaan en in die rigting van die TV-toring ry voordat jy weswaarts swenk. Hier het die brand aan albei kante van die bergpad gewoed en vir sekere waarnemers lyk die skade ontsagwekkend. Nie net is ’n groot hoeveelheid, veral die berg se proteas, vernietig nie, maar ook het talle groot bome in die slag gebly. Hieronder is die waboom, klipkershout en olienhout. Daar word gesê dat die spesies soms ná brande weer uitloop, maar in hierdie geval was die hitte so erg dat party bome heeltemal verkool het. Botaniste en ander kenners sê brande is nodig om die fynbosveld te hernieu. Wanneer plantegroei te ruig raak, onderdruk dit die groei van ander en kleiner spesies. Daarby is die reservaat in blokke opgedeel wat in sekere stadiums gebrand moet word. Teen hierdie argumente kan ’n mens nie stry nie, maar die vraag wat beantwoord moet word, is hoekom daar nie voorsorg getref is om te keer dat die beheerde brand hand-uit geruk het nie? Die Munisipaliteit behoort ervaring van sulke situasies te hê, want dit het al voorheen gebeur dat brande onder sy beheer op die berg erge afmetings aangeneem het. ’n Ander effek van die afgelope brand is die skade wat aan sekere diersoorte aangerig is. ’n Mens kan maar net raai hoeveel voëls, kleinwild, skilpaaie en slange in die slag gebly het. Dit was opvallend hoeveel voëls op die dag van die brand en daarna skuiling in dorpstuine kom soek het. Hopelik sal die winterreëns help dat die veld gou herstel. Aan die ander kant is dele van die berg nou so kaal gebrand dat daar geen plantegroei is om te keer dat erosie plaasvind nie. Kaal gebrand
More
News
|