Was dit regtig so 'n skouspel op die berg? 2008-04-10
DIE berig in die Paarl Post van 3 April in verband met die sogenaamde ‘beheerde brand’ op Paarlberg, laat talle brandende vrae. Die opskrif ‘Tragedie’ sou meer toepaslik gewees het.
Die landbougemeenskap en vuurvegters het dit allesbehalwe ’n skouspel gevind. Om so ’n verwoestende brand te bestry, is geen grap nie.
Op van die plase moes lewende hawe verskuif word, ekstra brandpaaie moes inderhaas gemaak word asook aksies geneem word om vaste eiendom te beskerm.
Baie man-ure het verlore geraak, baie duur diesel is verbruik en derduisende liters kosbare water is oor die vlamme gestort.
Baie kilometers grensdrade moet nou vervang word, plus duur arbeid word daarvoor benodig. Wie gaan pa staan vir al die kostes? Natuurlik die belastingbetalers, al was dit nie hulle skuld nie.
Ons begryp dat sodanige brande soms nodig is, maar dan asseblief nie op die verkeerde tyd nie.
Volgens my inligting was raad geïgnoreer om nie op daardie betrokke dag, weens die droë plantegroei, hoë dagtemperature en windspoed, die vuur te stig nie.
Die belastingbetalers is sekerlik geregtig om te weet hoeveel die ‘skouspel’ kos. ’n Helikopter vlug blykbaar teen meer as R30 000 per uur. In die proses was daar drie helikopters gebruik plus die opsporingsvliegtuie.
Die brandbestryders het ook nie verniet gewerk nie.
Ons maak ernstig beswaar teen alles wat gebeur het en ons sal aanvaarbare antwoorde verwelkom.