Bejaarde vier nagte verlore in veld
2008-04-17
Lise Beyers
’n BEJAARDE man van die Paarl het vier nagte alleen in ’n sloot oorleef naby Ashton, nadat hy in ’n ongeluk betrokke was. Louis Barry, voormalige onderwyser by Hoër Handelskool (nou Labori), het twee weke gelede saam met familielede by sy strandhuis in Glentana, Suid-Kaap, gekuier. Hy is die Vrydagmiddag alleen terug na die Paarl toe, maar het nooit daar aangekom nie. Toe Barry nie op Worcester oudergewoonte by sy seun gaan groet het nie, het die alarmklokke reeds begin lui. Sy dogter Margaret vertel dat hulle eers gedink het dat hy by Geor- ge of Calitzdorp aangegaan het soos wat hy al ook in die verlede gedoen het, maar na verskeie telefoonoproepe was daar steeds gaan teken van haar 82-jarige pa nie. Barry se seun het uit desperaatheid ’n noodvlug bewerkstellig vanuit George, wat die lengte en breedte van die roete ondersoek het, maar na twee dae was daar nog niks. Sy kinders was teen hierdie tyd moedeloos en het gevrees dat hulle nooit weer vir hul pa sou sien nie, maar vier angsbevange nagte later, is die tyding ontvang dat Barry buitekant Ashton gevind is. Nou veilig terug in sy huis in Denneburg, vertel hy van sy ‘avontuur’. “Ek was die middag op pad na die Paarl, en kort voor Ashton was die lig taamlik swak. “Ek het my misgis by die kruising vanaf Swellendam na Montagu en Ashton en het reg oor die T-aansluiting gery. “My BMW het sowat agt meter by ’n helling afgery en ek was gestrand. Ek het uit die motor geklim en probeer om na bo te klim, maar dit was te steil. “Dit het nou vinnig begin donker word, en gelukkig het ek beddegoed van die strandhuis in my motor gehad. Ek het eenvoudig net ’n bed binne my voertuig vir my gemaak en gaan slaap. “Ek het ook padkos en water gehad vir die reis wat my dors en honger geles het.” “Die volgende oggend het ek weer die helling probeer uitklim, maar dit was ook onsuksesvol. Kort-kort kon ek die stemme van mense bo in die pad hoor, maar hulle kon my noodkrete nie hoor nie. “Nadat my padkos en water opgeraak het was ek desperaat. Maar ek onthou toe dat ek ’n groot blik gemengde vrugte in die voertuig gehad het. Ek het gespook om die blik met ’n skroewedraaier oop te maak, voordat ek verligting kon vind in die soet stroop van die vrugte.” Na die vierde nag het Barry begin hoop verloor. Hy was erg gedehidreer en sy liggaam was in skok. Maar soos ’n engel het ’n vragmotorbestuurder heel terloops op sy voertuig se wrak afgekom. Hy het toevallig by die T-aansluiting stilgehou om vir ’n vriend die toneel te wys, waar hy ook onlangs in ’n ongeluk betrokke was. Hulle het na die rand van die pad gestap en dit is toe dat hulle Barry se voertuig gesien het. Hulle is summier na die Ashton polisiestasie om dit te rapporteer, en ’n reddingspan is na die toneel gestuur. Barry is na die Robertson hospitaal geneem met verskeie kneuswonde, en nadat sy toestand gestabilieer het, is hy na die Worcester MediClinic geneem om nader aan sy seun te wees. Nou sterk hy onder die wakende oë van sy dogter in die Paarl aan en beaam, “Oos wes, tuis bes.”
More
News
|