Riverstones hardloop oor Violets
2008-04-17
Jaco van Wyk
RIVERSTONES het Saterdag gewys dat hulle beslis ’n span gaan wees om mee rekening te hou hierdie seisoen toe hulle die span van Violets met 51-0 afgeransel het. Met die wedstryd wat op Daljosafat beslis is, het Riverstones die een drie na die ander ingeryg en sodoende ’n duidelike boodskap aan sy toekomstige opponente gestuur. Vir Riverstones het Jeremy van Neel uitgeblink met ’n driekuns van drieë, met Chris Mouwers wat self twee drieë aangeteken het. Ander drieë vir Riverstones is gedruk deur Donovan Hougaard, Ulen Claasen, Varkie Swarts en Lance Benjamin. Hougaard het ook sy naamgenoot van die Blou Bulle, Derick Hougaard, nageboots deur die skopwerk na die pale te behartig. Hy het met drie doelskoppe geslaag. Riverstones se tweede span het hul wedstryd teen Violets II met 14-8 gewen, terwyl die klubs se derde spanne met 5-5 die louere moes deel. Verlede naweek was Riverstones se junior spanne in aksie teen Laer Paarl. Riverstones se o.12’s het met 12-0 gewen, met Charl Paulse, Cass Davey wat die drieë gedruk het. Paulse het ook een van die drieë verdoel. Riverstones se o.14’s het met 0-31 vasgeval teen Laer Paarl se o.14’s. Saterdag speel Riverstones in ’n wegwedstryd teen Allandale. * Die klub hou Sondag ’n kerkdiens saam met Violets by Bethel Kerk om 10:00.
More
News
|