Albions verloor op ’n streep
2008-04-17
ALBIONS het Saterdag lelik uit die bus geval toe hulle met 34-5 die knie gebuig het teen Elsiesrivier United op laasgenoemde se tuisveld. Die rustydtelling was 5-17. Albions kon nie daarin slaag om hul geleenthede in punte te omskep nie, terwyl Elsiesrivier goed gedoen het om hul kanse te benut. Alhoewel die telling nie ’n akkurate weerspieëling van die wedstryd is nie, het die besoekers net hulself te blameer aangesien hul swak verdediging en hanteerwerk hulle telkemale in die steek gelaat het. Dit is Albions se tweede verloor op ’n streep na hulle verlede week in die laaste minuut vasgeval het teen Hands & Hearts. Al maak een swaeltjie nie ’n somer nie, kan Albions hulself ongelukkig ag dat hul skrumskakel, Evan Prins, vroeg in die wedstryd die veld moes verlaat met ’n kniebesering. Met Prins uit die prentjie het die besoekers ritme verloor aangesien die bal nie altyd so vinnig soos gewoontlik uitgekom het nie. Vir Albions is daar egter ’n paar ligpunte, veral wat hul skrumwerk aanbetref, met die vaste vyf wat veral goed vertoon het. Albions se enigste drie is gedruk deur die senter, Christopher Kainda. Albions se tweede en derde spanne het beter gevaar. Albions se tweede span was met 10-9 baas, terwyl Albions se derdes met 21- 20 gewen het. Saterdag speel Albions tuis teen Van der Stel op Faurestraat-stadion. Na afloop van die wedstryd gaan daar ook ’n biertuin by die huis van die voorsitter, James Davids, wees.
More
News
|