Roses te sterk vir Delicious
2008-04-17
ROSES UNITED het Saterdag vir Delicious Rugbyklub van Ceres oortuigend geklop op laasgenoemde se tuisveld met 37-22. Delicious het teen die verloop van die spel voorgeloop met 17-6 toe rustyd aangebreek het. Na rustyd het Roses die tuisspan met skitterende hardlooprugby begin deurmekaar hardloop. Die voorspelers, met Randell Hefka aan die spits, het die manne van Delicious behoorlik laat les opsê. Delicious se poging om die verloop van die wedstryd met negatiewe spel te vertraag is ook goed raakgesien deur die skeidsregter. Roses se agterspelers het ook goeie spel gelewer in die tweede helfte. Garth April het by tye die span van Delicious heeltemal oorhoops gehad met sy vlymskerp breekslae. Die groot held vir Roses was egter Denver (Lange) Fortuin. Fortuin het gewys dat hy die jaar nog diep spore in Boland-klubrugby gaan trap. Vir Roses het Garth April twee drieë gedruk. Die ander drieë is gedruk deur Cornel Hendricks, Denver Fortuin en Randell Hefka. Hefka was ook suksesvol met twee strafskoppe en drie doelskoppe. Roses se tweede span het met 31-32 vasgeval, terwyl Roses III met 7-26 verloor het. Die Rose pak eerskomende Saterdag die bulspan van Ceres-rugbyklub op Pelikaanpark in Wellington. Toeskouers kan uitsien na ’n klipharde wedstryd aangesien beide spanne bekend is vir hul puik voorspelerspel.
More
News
|