Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Wraak lei tot skiet-dood

Wraak lei tot skiet-dood
 
2008-04-17

Lise Beyers

JALOESIE, dwelms en verraad het waarskynlik gelei tot die skietdood van ’n jong ma van ’n driejarige kind op Franschhoek.

Die lewe van Monique Samuels is Sondag kortgeknip, toe haar voormalige minnaar vermoedelik vir haar vyf keer geskiet het.

Die treurspel het Sondagmiddag afgespeel in Beau Coup de L’Eaustraat, Groendal.

Samuels het die afgelope ruk hier tuisgegaan by haar suster, weens teistering deur haar gewese kêrel, Ashley Jurries.

Samuels was Sondag alleen tuis en het reggemaak om 14:00 te gaan werk.

’n Ooggetuie het gesien hoe Jurries ’n deur by die huis oopkap met ’n hamer en binnegaan. Die man het toe ’n polisieman in die gebied aangekeer en hy is na die toneel.

Hierna het verskeie skote geklap, en die polisieman is byna getref, sowel as ’n familielid van Monique, Hendriena du Preez. Versterkings is ingeroep.

Die polisie het probeer om met Jurries te onderhandel om uit die huis te kom, maar nog skote het geklap.

Sowat ’n uur later is die vuurwapen uit die huis se venster gegooi en die polisie is na binne en het vir Jurries oorweldig.

Dit is toe dat hulle op die liggaam van Monique afgekom het.

Claredene Johnson, Monique se oudste suster, het gesê dat Juries en Monique ses jaar bevriend was. Uit hul verhouding is ’n dogter, Ashnique, gebore.

“Monique het egter ’n tyd gelede haar verhouding met Juries beëindig weens sy hardhandigheid teenoor haar.

“Hierna het hy selfs vir haar familielede dreigemente per SMS gestuur.

“Hy was uiters jaloers op Monique se doen en late, en kon glad nie aanvaar dat sy niks met hom te doen wou hê nie.

“’Tydens die Paasnaweek is Jurries in hegtenis geneem nadat hy vir Monigue erg aangerand het.

“Hy is egter op borgtog van R300 vrygelaat, en nou is my suster dood.”

Intussen is Ashnique sonder ’n ma gelaat, sowel as Monique se identiese tweeling Monise sonder haar sielsgenoot.

Juries is in hegtenis geneem en het Dinsdag in die Paarl Landdroshof verskyn op aanklagte van onder andere huisbraak, saakbeskadiging, besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en moord. Hy verskyn weer op 22 April in die Franschhoek Landdroshof.

Volgens die gemeenskap van Groendal het Jurries reeds vantevore met die gereg gebots weens die handel in dwelms. Hy was glo ’n berugte dwelmhandelaar en by bendebedrywighede betrokke.

Monique het by die Hugenote Museum op Franschhoek gewerk as administratiewe beampte.

Haar begrafnis vind Saterdag om 11:00 plaas by Beau Coup de L’Eaustraat 27, en daarna by die Franschhoek VGK.

* The mother of a three-year-old girl has been shot to death by a jealous lover.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za