Peoples val vas teen Pniel
2008-04-17
DIE oomblik was Saterdag voor ’n volgepakte Faurestraat-stadion te groot vir Young Peoples toe hulle met 14–28 teen Pniel Villagers vasgeval het. Young Peoples het eerste punte aangeteken toe Ben Martin na ’n goeie agterlynbeweging in die hoek gaan druk het. Delwayne Cornelissen het die drie verdoel. Swak verdediging deur die Tiere se agterlyn het egter toegelaat dat Pniel teruggeantwoord het met ’n drie onder die pale. Die Tiere se agterlyn het gevaarlik gelyk op die aanval, maar gebrekkige verdediging agterlangs het Pniel telkens op die voorvoet geplaas. Die totale samespel van die Tiere se voorspelers het ook Saterdag ontbreek. Swak dissipline deur Young Peoples het veroorsaak dat Pniel beheer oor die wedstryd neem. Villagers het rustyd reeds met 13-7 voorgeloop. Na twee vinnige drieë deur Pniel in die tweede helfte was die skrif aan die muur vir die Tiere. In die laaste 20 minute het die Tiere weer hernieude vuur gekry en die span van Pniel onder druk gehou wat gelei het tot die voorryspeler, Corrie Brand, se drie. Dominique Daniels het Brand se drie verdoel. Vreemde beslissings deur die skeidsregter het verhoed dat Peoples enige verdere punte kon aanteken. Pniel se ervaring in die kompetisie het boonop duidelik tydens die wedstryd na vore gekom. In ander wedstryde het Peoples se tweedes met 12-15 verloor, terwyl die derde span met 3-17 vasgeval het. Young Peoples speel Vrydagaand in ’n wegwedstryd teen Kuilsrivier. Busgeld kos R20 en die vertrektyd is om 17:00 uit Groenheuwel.
More
News
|