Kavaliers knoop Leeus se sterte
2008-04-17
Jaco van Wyk
DIE Boland Kavaliers het tydens ’n Vodacom-bekerwedstryd gehou by hul resep vir wenrugby toe hulle Vrydag, vir die tweede naweek in ’n ry, ’n oortuigende oorwinning oor hul opponente behaal het. Dié keer was dit die Leeus wat op Boland-sta- dion met 41-33 moes deurloop. Die besoekers het vol selfvertroue na Wellington gereis, min wetende dat die Kavaliers meer as gereed was vir die aanslag van die manne van die Noorde. Die Kavaliers het van meet af die besoekers op die agtervoet gedwing en reeds in die eerste helfte hul bonuspunt drie gedruk. Met die aanbreek van halftyd was die telling reeds 29-13 vir die Bolanders. In die tweede helfte het die Kavaliers effens voet van die pedaal af gehaal en amper toegelaat dat die Leeus terug in die wedstryd kom met ’n paar sagte drieë. Die tuisspan was egter nie bereid om hul harde werk prys te gee nie en het self nog twee drieë in die tweede helfte gedruk. Met die oorwinning het die Kavaliers vir hulself ’n plek in die kwarteindronde van die Vodacombeker bespreek. Die toekenning vir die speler van die wedstryd het welverdiend aan die skrumskakel, Neil Papier, gegaan. Hy het oor die algemeen goeie spel opgedis en met vinnige diens rigting aan die agterlyn verskaf. Voorlangs was Dries van Schalkwyk uitstekend, veral tydens die afskoppe waar hy goed meegeding het om die bal. Die flank, Zolani Mofu, het gewys dat dinamiet in klein pakkies kom deur sy soveelste goeie vertoning van die seisoen te lewer. Agterlangs was die heelagter, Justin Peach, weer sy bestendige self met sy skopvoet. Drieë vir die Kavaliers is gedruk deur Piet van Zyl, Kobus Meintjies, Whalied Heyns, John Daniels, Pieter Wium en Alvin Hugo. Peach het met vier doelskoppe en een strafdoel na die pale geslaag.
More
News
|