Museum nou Saterdae oop
2005-06-30
DIE Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl is nou ook oop vir besoekers op Saterdagoggende van 09:00 tot 13:00.
Die museum, wat ingerig is in Huis Gideon Malherbe in die hartjie van die Paarl, huisves ’n moderne uitstalling oor die wortels en variante van Afrikaans, asook ’n huismuseum.
Die nuwe multi-media uitstalling, getiteld Afrikaans: ’n reënboogtaal, is ’n opwindende toer deur die verlede en hede van Afrikaans.
Die onderste verdieping van Huis Gideon Malherbe is in ’n groot mate gerestoureer en ingerig soos dit in 1875 was.
Malherbe was een van die stigterslede van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA), ’n vereniging wat op 14 Augustus 1875 gestig is met die hoofdoel om hom te beywer vir die erkenning van Afrikaans as skryftaal.
Vandag bied die museum steeds ’n getroue blik op die lewens en tydsgees van hierdie mense sodat besoekers ’n goeie idee kan kry van die moeilike pad wat hulle moes loop.
Toegang is R10 vir volwassenes en R2 vir leerders en studente. Die museum is oop van 09:00 tot 16:00 van Maandag tot Vrydag, en van 09:00 tot 13:00 op Saterdae.
Begeleide toere moet vooraf bespreek word by 872-3441. Vir meer inligting, besoek www.taalmu seum.co.za of skakel 872-3441.
More
News
|