Onderwysers leer meer van kwaliteit-onderrig
2008-04-17
Jules Krige
DIE William Glasser Instituut Suid-Afrika het onlangs 21 onderwysers opgelei in kwaliteitsonderrig by Noorder-Paarl Hoërskool. Die doel van die opleiding is om goeie menseverhoudinge te bou in die klaskameromgewing met die oog op kwaliteitsonderrig in skole. Mitchell Messina, skakelbeampte vir die William Glasser Instituut in die VSA, sê: “Ons het die Wynland-distrik gekies om die pionier-program vir skole in Suid-Afrika te loods. “Ons beoog om onderwys meer geslaagd te maak in die klaskamer deur onderwysers toe te rus met nuwe vaardighede wat kan help om die groot gaping in kwaliteit onderrig in Suid-Afrika te vernou. “Dit is ons oortuiging dat dié opleiding die antwoord is vir die meeste dissipline-probleme in Suid-Afrikaanse skole,” sê hy. Skole in die Wynland-distrik wie die Glasser beginsel toegepas het soos Laerskool Noord-Eind in die Paarl, Rondeheuwel Primêr in Hermon, en St Albans Primêr op Wellington het onverwagse suksesse ervaar en hulle is baie positief. Die William Glasser Instituut is vernoem na dr William Glasser, ’n wêreldbekende Amerikaanse psigiater en opvoedkundige.
More
News
|