HIERMEE wil ek Paarl Rugbyklub geluk wens met hul 125ste bestaansjaar. Ek dink vir elke rugbyklub in ons samelewing is dit ’n besondere mylpaal wat bereik was.
Ek wil egter ook van hierdie geleentheid gebruik maak om aan die huidige bestuur die vraag te vra: Het daar enige bruin spelers vir die klub gespeel, en wie was hierdie spelers voor eenwording in ons rugby?
Ek wil ook graag weet of hierdie spelers se name enigsins ook in die klub se geskiedenis aangeteken was, en watter bydrae het hierdie spelers tot die klub gemaak, of was hierdie spelers ook slegs misbruik aangesien daar geensins melding gemaak word van hulle in berigte van die klub se geskiedenis nie.
Dan wil ek ook weet of die bruin spelers gekontak was om deel te neem aan die feesvieringe of is hulle vergete?
Rugby-ondersteuner Paarl
’n Woordvoerder van Paarl Rugbyklub reageer: Paarl Rugbyklub het reeds in 1986 alle verwysings na ras uit sy Grondwet verwyder en sedertdien het bruin spelers deurlopend vir die klub gespeel.
Van hierdie spelers dien reeds verskeie jare as afrigters in die klub en verskeie het reeds en dien ook tans steeds op die bestuur van die klub. Hulle is dus onlosmaaklik deel van die trotse en roemryke geskiedenis van die klub.
En ja, voormalige bruin spelers was gekontak om deel te neem aan die feesviering en het reeds daar deelgeneem.