HMS hokkie skitter
2008-04-24
Jaco van Wyk
DIE o.19A hokkiespan van Hoër Meisieskool Paarl het skitterend gevaar tydens ’n hokkietoernooi wat die naweek op Hermanus aangebied is, terwyl die skool se laer spanne gewys het dat daar niks skort met die diepte van hul spanne nie. HMS het karakter getoon om onoorwonne van die toernooi af terug te keer. Die Paarliete het daarin geslaag om drie van sy vyf kragmetings te wen en in die ander twee gelykop te speel. Alhoewel HMS se uitslag tydens hul eerste wedstryd met 0-0 geëindig het teen Rhenish, het hulle dit opgevolg met drie oorwinnings, terwyl hulle in hul laaste wedstryd weer ’n gelykop uitslag behaal het. Teen Hugenote Hoërskool het HMS met 2-0 gewen, gevolg deur ’n 2-0 oorwinning oor Hottentots-Holland en ’n 3-1 oorwinning oor Hermanus. In hul laaste wedstryd het HMS met hul teenstanders van die Paarl, La Rochelle, te doen gekry en ’n uitslag van 0-0 is behaal. In ander wedstryde wat oor die naweek plaasgevind het, het HMS teen Hugenote gaan kragte meet op Wellington. Met die uitsondering van HMS se o.16D span, het al die ander spanne goeie oorwinnings teen die Wellingtonners behaal.
More
News
|