Meisie se droom word waar
2008-04-24
Jules Krige
’n WELLINGTONSE tiener, Char-Mien Botha, se droom is verwerklik toe sy verneem het dat ’n werkvakansie-agentskap in Kaapstad haar reiskostes na Nederland gaan borg waar sy as au pair gaan werk. Char-Mien (18) het groot -geword in die Andrew Murray Kinderhuis op Wellington, waar sy woon sedert sy twee jaar oud is. Sy het verlede jaar aan Hugenote Hoërskool gematrikuleer. Dit is Char-Mien se eerste geleentheid om oorsee te gaan en sy sien baie daarna uit. “Ek het die aand voordat ek na die DreamSeasons se werkvakansiepraatjie gegaan het, vir die Here gevra wat met my lewe gaan gebeur nadat ek klaar is by die kinderhuis.” Char-Mien se gebede is beantwoord toe DreamSeasons aangebied het om haar te borg vir ’n werkvakansie van ’n jaar in Nederland waar sy die geleentheid gebied word om van ’n nuwe kultuur te leer en ’n bietjie sakgeld in die proses te maak. Char-Mien sal ook daar verder studeer. Haar studies word geborg deur die gasheergesin waar sy kinderoppasster sal wees. Deel van die ooreenkoms is dat sy moet leer hoe om Nederlands te praat en sy word geborg om vir ses maande Nederlandse taalklasse te neem. Sy mag ook enige ander studievakke kies terwyl sy vir die jaar in Nederland studeer. Char-Mien gaan twee kinders oppas, ’n seuntjie van vyf en ’n dogtertjie van twee. Sy mag ook saam met die gesin op vakansie gaan wanneer hulle Europa besoek. Sy sal baie tyd vir haarself hê omdat sy net 30 ure per week werk. “Ek is baie dankbaar vir Carien van der Merwe van die Andrew Murray Kinderhuis wat my ondersteun het tydens die aansoekproses. Ek wil ook my innige dank betuig aan Ernst en Chantelle Relker van DreamSeasons. Sonder hulle sou die geleentheid nooit op my pad gekom het nie.” Chantelle van DreamSeasons sê: “Dit gee vir ons groot bevrediging om te sien hoe haar droom om oorsee te gaan waar word. “Ons borg jongmense op ’n gereelde basis om oorsee te gaan werk. Toe ons aan CharMien voorgestel is, het sy ’n groot indruk op ons gemaak. Ek het gedink dat sy ’n oulike meisie is en dat sy so ’n geleentheid beslis verdien.” Char-Mien het op 20 April na Amsterdam vertrek vir haar droomjaar in Nederland.
More
News
|