Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Jong talent maak merk by KKNK

Jong talent maak merk by KKNK
 
2008-04-24

Jules Krige

BREINBLIKSEM, ’n toneelstuk wat die gehoor vroeër vanjaar by die KKNK laat regop sit het, het Gimmie André Terblanché (17) behoorlik in die kollig geplaas.

Die veelbesproke produksie is gebaseer op die boek van Fanie Viljoen se 2004 Sanlam jeuglektuur-prysboek ‘Breinbliksem’. André vertolk die rol van Sky, die “gewete” van ’n tiener wat van die pad af is.

Breinbliksem sluit skokkende verkragtings- en moordtonele in wat veral jongmense diep tref en sale by die kunstefees was gepak.

André, tans in matriek, is vinnig besig om naam te maak in die vermaaklikheidswêreld weens sy talent vir sang en toneelspel.

Hy is passievol en hy geniet beslis wat hy die beste doen: om op ’n verhoog op te tree.

André het tydens sy kinderjare baie tyd deurgebring by sy oupa se winkel, Musiklood, waar hy geleer het hoe om baie instrumente te speel. Kort voor lank het sy musiektalent na vore gekom, veral met sang.

In 2005, het hy deelgeneem aan die Gemini Wes-Kaap sangkompetisie waar hy die junior afdeling gewen het. Die volgende jaar het hy weer ingeskryf vir die Gemini-kompetisie waar hy met die senior afdeling se louere weggestap het.In dieselfde jaar word hy toe ook aangekondig as die algehele wenner van die KWV Wynland Talentkompetisie.

André het in 2007 vir die Idols televisie- sangkompetisie gaan inskryf en uiteindelik in die top 80 geëindig - dit nadat Randall hom vasgevat het oor sy skoene wat volgens hom nie mooi genoeg was nie.

Met hierdie ervaring is André vir die eerste keer aan die kameras voorgestel en dit het hom aangespoor om ’n loopbaan te volg in die vermaaklikheidswêreld.

In Desember het hy ’n groot geleentheid gekry toe Mango Groove se Claire Johnston hom gevra het om op te tree in die voorprogram tydens hul konsert in die Paarlse amfiteater. Hy het ’n repertoire van Afrikaans, Jazz en Swing vir die gehoor gesing.

“Mango Groove het vir my ’n briljante geleentheid gegee. ’n Mens moet net sulke geleenthede gebruik om te bly leer van verhoogoptredes,” het André gesê.

Hy neem al reeds vir vier jaar dramaklasse by Wiwe Ras-Pretorius, drama-onderwyse- res van die Paarl. “Wiwe het vir my van baie aspekte geleer in die wêreld van toneelspel” het André gesê.

Hennie van Greunen, ’n bekende toneelskrywer/regisseur van toneelstukke soos Dowwe Dolla, Shirley Valentyn en Sussie, het vir Wiwe gekontak om vas te stel of sy van enige talentvolle, jong akteurs weet wat kan optree in ‘Breinbliksem’ by die KKNK. André is saam met ses ander jong Paarliete genooi vir ’n oudisie en was die enigste een wie gekies was.

“Dit het alles nog plaasgevind toe ek besig was om in La Rochelle Hoër se musiekbly- spel op te tree.”

“Ek moes besluit hoe ek my loopbaan verder gaan vat - met musiek of toneelspel. Ek het op die toneelstuk besluit omdat dit meer van ’n uitdaging sou wees,” het André gesê.

Breinbliksem is veral aan tieners gerig en was nie die tipe ‘show’ wat die gehoor beter oor hulself laat voel het nie - dit bevat kru taal, dwelmverbruik, ‘rock and roll’ en sex. Baie ouers het ook na die vertoning gaan kyk en was verslae.

Selfs die plakkaat wat die toneelspel adverteer, waarsku jou dat Breinbliksem jou dalk maller sal los as wat jy reeds is.

Vir agt dae lank, was die vertoning een keer per dag by die KKNK uitgevoer, waar dit gedurig uitverkoop was.

André sê, “Ons het die oogklappe van ons Afrikaans Calvinistiese volk weg probeer vat. Ons het vir die gehoor gewys wat in tieners se lewens gebeur.

Teatergangers het soms vir minute na die vertoning nog gesit om te begryp wat pas met hulle gebeur het. Dan was die stilte gevolg word deur ’n dreunende handeklap.

Jeugdrama-verteenwoordigers uit Nederland was ook gek oor die produksie en het gevra of die vertoning dalk in Nederland uitgevoer kan word.

Hierdie produksie gaan later vanjaar na die Volksblad-fees toe in Bloemfontein, gevolg deur ‘Klip innie bos’ by Nelspruit, en daar is ’n moontlikheid dat dit ook by Aardklop in Potchefstroom opgevoer gaan word.

Hoe kry André tyd om dit alles te doen, aangesien hy nog besig is met sy matriek?

“Dit gaan goed by die skool,” sê hy. “My punte lyk goed. Maar my vrye tyd is min en soms is daar nie tyd vir dramaklasse nie.”

André is ’n baie gebalanseerde jong man. Hy is deel van die studenteraad en voorsitter van ‘G4J Gospel’ groep.

Wat is volgende vir dié jong man? “Ek gaan my bes probeer om by Stellenbosch of UCT ’n beurs te kry vir drama” het hy gesê.

“En as alles nog goed gaan, wil ek in Amerika by die Lee Strasberg Drama School in New York opleiding ontvang.”




More News
  • Gasheer vir stoei
  • Show-jumping inter-schools at Evergreen
  • Met 'n groot glimlag vorentoe
  • Wiese uit sy nate oor oorsese toer
  • Boishaai gesels saam met grotes
  • Paarl Juniors hit five
  • Sixteen teams in soccer tournament
  • Alexa skrik nie vir 300 doele nie
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za