ONLANGS is vyf uitvoerende direkteure by Drakenstein Munisipaliteit teen meer as R800 000 elk per jaar aangestel (volle pakket, ondersteuningspersoneel uitgesluit). Die doel van ’n bykomende oorhoofse bestuursvlak was om enige tekortkominge in leierskap en strategiese denke wat deur onafhanklike konsultante geïdentifiseer is, aan te spreek.
’n Mens sou dus verwag dat vars denke en bewese bestuursvernuf van buite die aanstellings sou oorheers. Slegs een van die direkteure (uit plaaslike geledere) is deur die ANC goed genoeg geag om nou die drie grootste departemente, te wete Elektries, Siviel en Beplanning te hanteer, en dit is waarde vir geld in die oë van die publiek.
Maar wat van die ander? Die drie oorblywende departemente is Finansies, Korporatief en Gemeenskapsdienste.
Een departementshoof en twee waarnemende departementshoofde het nou kitsbevordering gekry en gaan nou elk hul eie departement op hoër vlak hanteer.
Die ANC self het dus nie vertroue in hierdie aanstellings om enigiets meer as hul huidige departemente te hanteer nie. Hoekom dan die bevordering en in sekere gevalle ’n verdubbeling in salaris?
Met slegs een-tot-een rapporteringslyne in hierdie drie departemente is dit nie waarde vir geld nie. Daar is nou dwarsdeur die lyne in elk van die laasgenoemde departemente kitsbevordering op pad en dit sal interessant wees om te sien wie haal die paal.
Die ANC van Drakenstein het ’n gulde geleentheid deur die vingers laat glip en dit wys mens net weereens: As dit by korporatiewe bestuur kom, is die ondervinding en insig maar min, tensy dit moedswillige werkskepping en bevoordeling met verskuilde agendas is, boonop ten koste van die publiek. Kan die R2,4 miljoen wat die vyf hoofde gaan verdien (R800,000 x 3) nie beter aangewend word op infrastruktuur en dienste nie?
Deetlefs du Toit (DA raadslid)