Tiere byt weer in stof
2008-04-24
DIE geluksgodin het weereens Vrydagaand van Young Peoples gewyk toe hulle met 10-19 teen Kuilsrivier vasgeval het. Young Peoples het vroeg die tempo van die wedstryd bepaal en binne die eerste tien minute reeds twee strafdoele verbrou. Ongedissiplineerde spel binne die Tiere se helfte het veroorsaak dat Kuilsrivier vinnig drie strafdoele deur die pale gejaag het om met 9-0 voor te loop. Na swak verdediging agterlangs het Kuilsrivier ’n drie gaan druk om rustyd met 16-0 voor te loop. In die tweede helfte het die Tiere die bal meer wyd gespeel en die energie van die Kuile se swaar voorspelers was getap. Dit het gelei tot ’n drie vir Francois Manuel, met Manie Adams wat onmiddellik daarna ook gaan druk het om die voorsprong te laat krimp. Peoples het in die tweede helfte op Kuilsrivier se doellyn geboer, maar swak opsies het verhoed dat hulle die knoop deurhak. Boonop het Peoples se stelskoppers ’n afdag beleef deur met ses pogings pale toe te misluk. Peoples II en III het met 7-13 en 0-7 vasgeval, terwyl die o.20’s met 27-20 gewen het. Saterdag speel Peoples se o.12’s, o.14’s, o.16’s en o.20’s teen Pniel Villagers op Pniel. Peoples bied Saterdag ’n spanbou aan op die Daljosafat.
More
News
|