Skolerugby spring weg
2008-04-24
Jaco van Wyk
AS mens op grond van die naweek se rugbykragmetings tussen skole in die Wes-Kaap afleidings kan maak van hoe die seisoen gaan uitdraai, blyk dit of die kompetisie straf gaan wees. Dit is egter nog te vroeg om enige voorspellings te maak, maar die naweek se ontmoetings waarby spanne van die Paarl betrokke was, was beslis taai. HJS het sy seisoen afgeskop met ’n gelykop uitslag teen die sterk span van Bishops. Die twee spanne het met 14-14 gelykop gespeel, en alhoewel beide spanne lekker hardlooprugby opgedis het, kan Bishops hulself dalk as ongelukkig ag dat hulle nie die wedstryd in die sakkie het nie. Albei spanne kan egter ’n regmerkie vir hul verdediging kry. In ’n ander wedstryd het Gim vir Rondebosch met 35-12 geklop op laasgenoemde se tuisveld. Die telling vlei egter vir Gim aangesien dit vir die manne van die Paarl twee drieë in die laaste 15 minute van die wedstryd gekos het om met die louere weg te stap. Met ’n kwartier se spel oor het die twee spanne nog gelyk getrek. Tussen Landbouskool en Wynberg was daar ook maar min te kies, met die Paarliete wat uiteindelik met 9-5 gewen het. In nog ’n gelykop uitslag het Labori goed gedoen om gelykop te speel teen New Orleans. Die eindtelling tussen die twee spanne van die Paarl was 17-17.
More
News
|