Handevatdiens in ou kerk
2008-04-24
OP Sondag hou die Strooidakgemeente ’n “Handevatdag” by wyse van ’n diens in die kerk, om 09:00. Die diens sal om 10:00 buite in die kerkhof afgesluit word met die plant van agapanthus-plante in voorbereide grond en die geniet van verversings daarna. Die NG Gemeente Die Paarl (Strooidakkerk) is die derde oudste NG gemeente in Suid-Afrika (gestig 1691) en die kerkgebou (ingewy 1805) die oudste kerkgebou in die land wat nog in sy oorspronklike vorm as kerk gebruik word. Die kerkhof van die gemeente is voor, langs en agter die kerk en is een van die mees historiese kerkhowe in Suid-Afrika. ’n Groot aantal baanbrekers en leiers van die vorige eeue is hier begrawe. Mense soos ds GWA van der Lingen (deur wie die Pinksterdienste ontstaan het), Wynand Louw (bekende nasionale kerk-argitek), dr André du Toit (voorsitter van die KWV, Volkskas en ander direksies), prof Dawid de Villiers (”Heilige Dawid”, rektor van die kweekskool op Stellenbosch), verskeie ander predikante en sendelinge, lê daar begrawe. Die ontslapenes was die voorvaders van talle van die Paarl se bekendste families soos De Villiers, Du Toit, Kirsten, Le Roux, Louw, Malherbe, Marais en Roux. Alhoewel die kerkhof ’n kosbare erfenis is, plaas die instandhouding daarvan ’n groot las op die gemeente. Oor die jare het baie grafte verval en bestaan daar nou groot oop areas in die kerkhof waarop slegs onkruid groei wat teen groot koste bestry moet word. Die gemeente wil graag hierdie areas herontwikkel (weer grafte daar uitsit), maar goedkeuring daarvoor vereis ’n lang proses waarin die publiek so wyd moontlik daarvan in kennis gestel moet word. Intussen wil die gemeente die oop gebiede beplant sodat die skaduwee van die plante die groei van onkruid sal beperk. Die Handevatdiens Sondag is deel van die trappe na herontwikkeling van die kerkhof.
More
News
|