Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Flenters pad pla

Flenters pad pla
 
2008-04-24

Lise Beyers

DIE gemeenskap van Paardeberg is raadop met die vernietiging van hul grondpad waarop hulle staatmaak vir daaglikse deurgang.

Dié grondpad-gedeelte van die Slentpad van ongeveer 10km loop tot by die R302 in die rigting van Durbanville.

Noodsaaklike landbouvoertuie gebruik daagliks die pad, maar dit word nou vererger deur vragmotors wat hier ’n kortpad kies vanaf ’n sandmyn in die Paardeberg-gebied, tot die R302, vanwaar hulle maklike toegang tot die N1 verkry.

Volgens die plaaslike gemeenskap vervoer vragmotors sand na onder andere die bouperseel van die Groenpunt-stadion. Hierdeur word die pad erg verrinneweer.

Behalwe die feit dat hierdie pad ’n belangrike deurgang vir talle produktiewe plase is, is dit ook die tuiste van die Kersboslaagte Laerskool.

Die kinders en toerusting van Kersboslaagte ly geweldig hieronder en skoolhoof David Abrahams sit met sy hande in die hare weens die probleme wat hulle ondervind.

“My leerders word erg gepla deur die verstikkende stof waarmee ons daagliks moet saamleef en kan nie op hul werk konsentreer nie. Baie van hulle ondervind asemhalingsprobleme en raak ook dikwels naar.”

“Onlangs is R140 000 se rekenaars hier opgerig en van hulle moes reeds herstel word weens die rooi stof wat die elektronika beskadig. Ons het oortreksels laat maak om hulle van die stof te beskerm, maar niks is bestand teen die rooi stof nie. Die toestand van die pad is nou so swak dat die onderwysers meer as een en ’n half kilometer vanaf die teerpad hierheen moet stap, want hul geleenthede weier om dié pad gebruik. Dan moet hulle in die middae weer terug loop.”

Verder, sê Abrahams, het hy al ’n geruime tyd aan dooiemans deur geklop as hy met die owerhede hieroor praat.

Intussen het die pad al in so ’n swak toestand verval weens die swaar verkeer, dat tensy jy ’n ware hardebak 4x4 voertuig besit, dit bykans ontoeganklik is.

Plaaslike boere is erg omgekrap hieroor.

Die pad is laas in November geskraap en nou onlangs eers weer. Maar met Paarl Post se besoek aan die gebied kort nadat dit geskraap is, was dit skaars toeganklik vir ’n dorpsmotor.

Een boer het gesê dat hy nou die derde geslag is wat hier woon wat die owerhede maan om die pad te teer.

“Vir die landbousektor is dit ’n nagmerrie, want ons voertuie verniel byna daagliks.

“Die enigste uitweg is om die pad te teer.”

’n Woordvoerder van die Stad Kaapstad wat verantwoordelik is vir die Tygerbergsubstruktuur onder wie die pad val, het gesê dat die pad reeds afgemeet is vir die doeleinde om dit te teer, maar daar moet eers hiervoor begroot word.

* The community of an untarred section of the Slent Road are up in arms with an increase in heavy vehicle traffic causing severe damage to the road, and the unwillingness of authorities to tar this road.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za