Hulle vat nie nonsens van vreemdes nie
2008-04-24
Lise Beyers
DIE inbreker het nooit ’n kans gehad nie - nie met wakker, jong manne en plaasmans op vinnige motorfietse wat nie nonsens vat van vreemdelinge nie. Twee skoolseuns van die plaas Lelienfontein op Wellington, wat Vrydagmiddag kort voor 06:00 op ’n plaaspad met hul fietse onderweg was, het die onbekende man gesien. “Ons het dadelik geweet dié man hoort nie hier nie,” het Lluwellyn Appollis gesê. “Ons het hom fyn dopgehou, soos hy met die wingerd langs loop na die plaashuis toe,” beaam Leeroy Hendricks. “Hy was dan voor die huis, dan agterom. Toe daar ’n motor verbykom, en hy kruip weg, toe weet ons hier’s groot fout.” Die wakker seuns het die aandag getrek van Johan Arnolds, ’n werknemer wat op die plaasmotorfiets besig was om besproeiing na te gaan. Hy het dadelik nog manne met radio’s en ’n viertrekmotorfiets opgekommandeer en die huis omsingel. Die verdagte het die buit laat val en die hasepad gekies. Lluwellyn het hom ingehardloop, maar toe die man ’n mes uitpluk, moes hy terugstaan. Die man het deur ’n stokkiesland gehardloop, tussen wingerde en oor ’n bult na die aangrensende plaas. Intussen is die polisie in kennis gestel en het die honde-eenheid opgedaag. ’n Sokkie wat die verdagte om sy hand gedraai het om ’n venster te breek, en toe in die wingerd gelos het, was al wat die honde nodig gehad het om die spoor te vat. Met plaasmanne wat ’n bos op die plaas Slangrivier omsirkel het, het die honde die booswig uitgesnuffel. Dié nag was hy agter tralies. En Petrus Bosman het die inoud van die twee sakke teruggekry - ’n DVD-speler, ’n paar drafskoene, drie bottels KWV brandwyn, ’n bottel J&B whiskey en ’n bottel Port. “Op Lelienfontein laat vat ons nie nonsens van vreemdelinge nie,” het Lluwellyn die laaste woord gehad. * A thief was captured by farm workers.
More
News
|