Polisieman sit lank in tronk
2008-04-24
Lise Beyers
’n LIEFDESDRIEHOEK wat bykans vier en ’n half jaar gelede gelei het tot die skietdood van ’n bekende bewaarder en sportman van Wellington, is verlede week finaal afgehandel toe ’n oud-polisieman vir 21 jaar tronk toe gestuur is. Die opspraakwekkende moord, wat as ’n passiemoord beskryf is, het op 8 November 2003 in Meakerstraat, New Orleans plaasgevind, toe Paarl polisie-inspekteur Johan Lawrence met drie skote vir Henry Andrews afgemaai het. Lawrence en sy vrou, Debbie, ook ’n polisie-inspekteur, is vroeër dié jaar geskei. Ná die egskeiding het Debbie ’n verhouding aangeknoop met Andrews. Op die dag wat die tragedie afgespeel het, was Andrews en Debbie saam by haar huis in Spekboomlaan toe die eerste skoot geklap het. Debbie het destyds vertel dat hulle onbewus was dat iemand by ’n glas skuif-deur ingebreek het, totdat sy sigaretrook geruik het. Hierna het ’n skoot geklap en sy het haar twee jong dogters, uit haar huwelik met Lawrence, gegryp en by die agterdeur uitgehardloop. Die tweede skoot het vir Andrews in die maag getref en hy het uit die erf probeer ontsnap, maar Lawrence het hom aan die skouer teruggeleep. Nog ’n skoot het geklap en weereens is Andrews getref. Hierna het hy in sy erg beseerde toestand daarin geslaag om tot buite die erf te kom, maar het op die sypaadjie in Meakerstraat inmekaargesak. Lawrence het hom vasgepen en tromp- op die doodskoot toegedien. Lawrence het die huis ingevlug en eers na onderhandelinge met lede van die polisie het hy homself aan hulle oorgegee. Na ’n uitgerekte hofsaak waartydens Lawrence op borgtog vry was, is die pa van twee jong dogtertjies verlede Donderdag skuldig bevind aan moord, asook huisbraak, diefstal en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie. Nou staar Lawrence 21 jaar en ses maande agter tralies in die oë. * Nearly five years after the fatal shooting of a Wellington prison warden, a former Paarl policeman has been sentenced to 21 years imprisonment for the murder of the warden, his ex-wife’s boyfriend.
More
News
|