Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Sportterrein by rivier verval weens vandalisme

Sportterrein by rivier verval weens vandalisme
 
2008-04-30

Lise Beyers

KANOVAARDERS is nie meer veilig langs die oewers van die Bergrivier nie.

Oor die afgelope twee maande is daar drie maal by motors van lede van die Paarl Kanoklub ingebreek terwyl hulle op die Bergrivier oefen.

Behalwe hiervoor, word daar gereeld hiér by die kanoklub ingebreek en hul toerusting word beskadig.

Behalwe die kanoklub, ly die rugby-, muurbal- en krieketklub ook hieronder, met hul lede se voertuie wat deur diewe en vandale beskadig word.

Daar word gereeld gepoog om by dié klubhuise in te breek, en onlangs het ’n kragopwekker van die Paarl Rugbyklub verdwyn.

Die vermoede bestaan dat onwettige plakkers wat hulself tuisgemaak het onder Markstraatbrug sowel as in die Arboretum, verantwoordelik is vir hierdie dade.

Plaaslike Springbok-kanovaarder en lid van die Paarl Kanoklub, Donnie Malherbe, het gesê dat hierdie doellose voorvalle van vandalisme, asook diefstal nou buite beheer raak.

“Dit is veral ironies dat die Paarl Polisiekantoor letterlik teenaan Markstraatbrug geleë is.

“Hierdie terrein word elke oggend deur drawwers, kanovaarders en stappers as ontspanningsterrein benut en dit maak dit meer dringend dat iets aan die saak gedoen word.

“Ek voorspel dat kort voor lank meer ernstige misdade sy kop sal uitsteek, maar soos gewoonlik sal die owerhede eers daaraan dink om iets daadwerklik te doen nadat ’n ernstige insident plaasgevind het. Moet ons wag vir ’n verkragting, aanranding of moord voordat daar opgetree word?”

Behalwe vir die misdaad wat nou hier plaasvind, is die ander knellende aspek die algemene verval en rommelstrooiery wat op ’n gereelde basis plaasvind binne die sportterrein.

Ongemagtigde persone benut die terrein as plek waar alkohol gedrink word op die oewers van die rivier.

Leë drankbottels en bierblikke word in die rivier gegooi of stukkend gegooi op die rivieroewer.

Volgens lede vind hierdie tydverdryf meestal in die agtermiddag plaas, presies op die tyd wanneer jong lede van Paarl Kanoklub die terrein benut.

“Die sekuriteitswag wat by die toegangsbeheerpunt gestasioneer is beteken absoluut niks en laat iedereen toe om die terrein te betree. Hy sou sy tyd baie beter kon bestee deur rondes te doen en oortreders te verwilder.” Nog ’n kopseer is die houer wat vir glasherwinning bedoel is wat voor die rugbyklub geposisioneer is. Dit is nou al vir maande tot oorlopens toe vol met stukkende bottels wat in ’n radius van etlike meters gestrooi lê.

“In kort, niemand gee om nie,” sê Malherbe.

“Die Paarl Kanoklub doen ongelooflik baie vir opheffing van die voorheen benadeelde gemeenskappe - die klub doen op gereelde grondslag werwing by skole en speel ’n onontbeerlike rol in die vorming van ons jeug.

“Hierdie kinders ontvang professionele afrigting en word voorsien van toerusting teen geen koste nie.

“Dus vra ons dat die owerhede slegs teen ’n geringe koste hierdie sportperseel moet onderhou.

“Soos gewoonlik is ons politici en raadslede voor in die koor wanneer daar beloftes en “planne” gemaak word, maar heel laaste wanneer dit by die uitvoering daarvan kom.”

Die verskeie rolspelers van die klubs langs die Bergrivier stel voor dat die probleem dadelik verbeter sal word as die onwettige plakkers van onder die brug en die Arboretum verwyder, sowel as diegene in die begraafplaas langs die polisiekantoor.

Daar word ook gevra dat die polisie hul sigbaarheid hier sal verhoog, deur gereeld patrollies te ry of selfs per voet. Malherbe voer aan dat ’n ander moontlikheid om die veiligheid van hierdie sportperseel te bevorder is om ’n stelsel te implementeer waar slegs klublede se voertuie op die sportterrein toegelaat word.

“Die Paarl is jaarliks die gasheer van die oudste ultramarathon naamlik die Bergrivier Kanomaraton, wat sedert 1961 elke Julie by Markstraatbrug begin.

“Dit maak dit juis onverstaanbaar dat Paarl so min omgee vir ’n bate wat nie net ’n rol speel by opvoeding op voetsoolvlak nie, maar ook aansienlike advertensiewaarde vir ons dorp en sy gemeenskap bied.”

* The sports complex next to the Berg River has become the scene of regular vandalism, theft and littering.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za