SKOOLSTRAAT in Noorder-Paarl het ’n slagveld geword vir die inwoners se troeteldiere.
Dis ’n lekker breë straat en motors en motorfietse dink blykbaar dat dit spesiaal vir hulle so gemaak is om te jaag en die spoedgrens van 60km per uur te oorskry.
Sedert ons hier ingetrek het nege maande gelede, moes ons al sien hoe drie katte voor ons huis doodgery is. Ek moes twee keer vir my bure die tyding gaan gee dat hul kat doodgery is en dan te hoor hoe die kinders huil.
Katte is nogal baie “street wise” en as hulle die straat kruis, is dit gewoonlik vinnig en indien die motoriste in die spoedgrens bly, sal hulle in staat wees om vroegtydig spoed te verminder en sodoende die tragedie vermy.
Gisteraand was dit my man se taak om die bure in te lig dat hul kat doodgery is. Net ’n paar minute vroeër het hy nog met die katjie gespeel wat maar altyd hier buite in ons tuin kuier, uit ons bak kom water drink en met ons kat speel. Vir ’n man, wat veronderstel is om sterk te wees, was dit erg ontstellend.
Dit is nou wel katte wat raakgery is, maar wanneer is dit dalk ’n kind. Indien dit gebeur wonder ek of die motoris ook maar net verder sal wegjaag sonder om te stop.
Dit is werklik ’n baie onaangename taak om die troeteldier wat raakgery is, en nie eers onmiddellik dood is nie, na die eienaar te neem en dan die skok, ontnugtering en hartseer in hul oë te sien.
Ja, ons kan ons troeteldier in ons agterplaas begrawe en weer ’n ander een aanskaf, maar as dit ’n kind sou wees, is dit nie so eenvoudig nie.
Veral die motorfietse raas so dat mens nie eers mekaar kan hoor praat as hulle verby jou huis jaag nie. Waarom juis die gejaag, Julle is tog net op pad huis toe na werk of omgekeerd,
Asseblief motoriste, laat ons almal in harmonie saamwoon en ook ons troeteldiere en kinders wat dalk die pad kan kruis in ag neem.
Ek is werklik baie besorg en hoop dat al die jaagduiwels hierdie brief sal lees en daaroor nadink wanneer hulle in woongebiede ry.