'Word aandag gegee' - maar word daar regtig aandag aan gegee?
2008-05-08
’’WORD aandag aan gegee” is seker een van die mees onheilspellende frases wat mens kan teëkom. So word daar in die agenda van die Drakenstein burgemeesterskomitee vergadering van 23 April verwys na “Being attended to, Outstanding matters”. In hierdie geval is dit die agterstallige huurgeld van die sogenaamde B & C Hostelle in Mbekweni se jarelange uitstaande skuld van honderde inwoners wat kommer wek omdat daar die afgelope jaar zero vordering was. Die saak word net geïgnoreer. In sekere gevalle beloop die skuld soveel as R15 000 per individu. Is daar enigiemand wat dink hierdie geld gaan ingevorder word? Bykans ’n jaar gelede het die DA en vennote (toe in beheer) dringende verslae aangevra oor hoe die B & C hostelle se geld ingevorder gaan word. Tot hede is geen oplossing nog aangebied nie. Dit moet gesien word in die lig van meer as R20 miljoen se “agterstallige” geld wat die afgelope jaar van die res van die publiek geëis is. Laasgenoemde skuld het ontstaan as gevolg van foutiewe rekenings gebaseer op foutiewe aanslagte wat vir lang periodes uitgestuur is. Dus, nie die publiek se fout nie, maar as gevolg van onvoldoende stelsels in plek by die grys-paleis en die wet wat voorsiening maak dat foutiewe rekenings na regstelling se “agterstallige” geld tot drie jaar teruggeëis kan word. Intussen word (soos byvoorbeeld in een geval waarvan ek kennis dra) meer as R100 000 van een instansie geëis vir elektrisiteit wat te min aangeslaan is, terwyl ander daarmee wegkom. Dit is onregverdig en moontlik buite die wetlike bepalings van gelykheid. Wakker kiesers mag dalk ’n regsmening hieroor wil inwin. Deetlefs du Toit (DA raadslid) Anthony Sauls, munisipale, woordvoerder, antwoord: Met die opgradering van die B en C hostelle is besluit dat huur gevorder sou word sodra die opgraderings klaar is. ‘n Dispuut het ontstaan of die gelde gehef moes word, soos en wanneer eenhede klaar is, of totdat die hele projek voltooi is. Hierdie dispuut is nou opgelos en ‘n proses is aan die gang om die eenhede aan hul eienaars oor te dra. Wat betref die data skoonmaak- proses, staan dit enige persoon vry om met die relevante departement te skakel om enige onduidelikhede uit te klaar.
More
News
|