Veerpyllegende sterf aan hart
2008-05-08
Lise Beyers
’n INVLOEDRYKE Paarliet in veerpyltjiekringe, het vandeesweek skielik gesterf. Charles Jonker (55) van Charleston Hill het die afgelope naweek ’n ligte hartaanval oorleef, maar Dinsdagmiddag het die noodlot getref, toe hy skielik by die Paarl Landdroshof ineengestort het. Jonker het in die hofgang gewag en volgens ooggetuies het hy ’n pyn in sy bors gekry. Toe hy gaan sit het, het hy vooroor geval. Hy is op die toneel dood. Die area is ontruim en eers nadat hy dood verklaar is, is sy liggaam verwyder. Jonker is sedert 1981 ’n aktiewe lid van plaaslike veerpyltjieverenigings. Hy was stigterlid van Magnolia Klub, asook voorsitter van Drakenstein en Boland Veerpyltjievereniging. Later het hy ook gevorder tot uitvoerende bestuurder van Darts South Africa, waar hy veral bekend was as ontwikkelingsbeampte. Sammy Andrews van Boland Veerpyltjievereniging, het gesê dat Jonker diep spore getrap het vir die sport van veerpyltjies. “Charles was ’n geesdriftige deelnemer, asook organiseerder van dié sport. Hy was ’n lojale vriend en het ’n reusebydra gelewer tot die ontwikkeling van die sport. Ons gaan dié groot man geweldig mis.” Behalwe vir hierdie groot passie in sy lewe, was Jonker ’n suksesvolle sakeman en mede- eienaar van Sturton’s Pub in Huguenot en het sy eie plaagbeheer besigheid bedryf. Hy word oorleef deur sy vrou Brenda, seun en dogter, Sturton en Chabré. en kleindogter Brené. Sy begrafnis vind Saterdag om 11:45 vanaf St Omerstraat 23 plaas, en daarna by Bethal Congregational kerk om 13:00. * A well-known businessman, Charles Jonker, died suddenly of a heart attack at the Paarl Magistrate’s Court this week.
More
News
|