Weghol bakkie chaos
2008-05-08
Lise Beyers
DERTIEN mense het Maandag ’n noue ontkoming gehad, toe die bakkie waarin hulle vervoer is, omgeslaan het. Die ongeluk het omstreeks 16:45 plaasgevind toe die bakkie vol werkers van Fairview, onderweg was na Stellenbosch. By die T-aansluiting van die Suid Agter-Paarlpad en die R45 het die bakkie se remme klaarblyklik onklaar geraak en die voertuig het oor die stopstraat geploeg. ’n Geskokte bestuurder van die bakkie, Jan Kock, het vertel: “Toe ek die pedaal trap om hier te stop, was daar niks nie. “Ek het nie meer beheer oor die bakkie gehad nie. Dit het oor die vier bane gejaag en teen die rand van die pad omgeslaan.” Met die omslaan van die bakkie het die kap afgeval en die insittendes is uitgeslinger. Geskokte motoriste het stilgehou en onmiddellik die beseerdes te hulp gesnel. ’n Man wat gesien het hoe die ongeluk gebeur, het gesê dat dit net genade is dat ’n ander voertuig nie die bakkie getref het nie. “Dit was spitstyd en motors jaag dikwels hier op die R45 teen ’n geweldige spoed. “As ’n ander motor die bakkie getref het, sou daar sekerlik ’n dodetal gewees het.” Die beseerdes is na hospitale in Paarl en Stellenbosch vervoer. Omstanders het gekla dat die Metro- nooddiens eers ’n geruime tyd ná die ongeluk op die toneel aangekom het. ’n Woordvoerder van die plaaslike ambulansdiens het verduidelik dat die Paarl Metro-diens nie slegs ’n tekort aan personeel beleef nie, maar ook aan reddingsvoertuie. Noodoproepe moet eers na die Metro- diens se sentrale beheerkamer by Tygerberg hospitaal gemaak word, waarna hulle dan die plaaslike diens in kennis sal stel. Dikwels is dit hier waar vertragings voorkom, en saam veroorsaak dié tekortkominge ’n onbevredigende reaksietyd. Dit is ook nie ongekend dat plaaslike bemanning en voertuie na die Kaap geroep word wanneer daar ’n tekort is nie. Dit laat dan die plaaslike diens byna met sy hande afgekap. “Die Paarl ambulansdiens is daarop ingestel om die beste nooddiens moontlik vir die gemeenskap te lewer. Maar weens hierdie tekorte, is dit soms moeilik vir hulle om hul pligte uit te voer.” * Thirteen people narrowly escaped death, when the brakes of the vehicle they were travelling in failed, causing the bakkie to overturn.
More
News
|