Natuurwetenskappe-week
2008-05-08
OM ‘n lys van moontlike beroepe in die natuurwetenskappe op te noem, laat mens sommer behoorlik uitasem. ’n BSc-graad deure na ‘n magdom beroepe oopmaak. Die gewilde Natuurwetenskappe Winterweek van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Natuurwetenskappe bied die ideale kans om eerstehands by dosente en mense in die bedryf raad te kry oor watter studierigtings en beroepsopsies vir jou nommerpas is. Die Winterweek, wat vanjaar van 29 Junie tot 3 Julie op die Matie-kampus gehou word, is gemik op graad 11 en 12 leerders wat belang stel in ’n beroep in die natuurwetenskappe, maar nog bietjie kop krap oor hul loopbaanopsies. Dit sal jou help om ’n keuse te maak uit programme en studierigtings wat beskikbaar is, en jou ook blootstel aan ’n paar minder bekende beroepsrigtings soos dié van ‘n stralings- en gesondheidsfisikus, ’n tekstielwetenskaplike, ’n geoinformatikus, ’n bewaringsgenetikus of ’n indringerspesie-spesialis. Soggens word departemente besoek, waar jy met dosente uit die verskillende vakdissiplines van fisiologiese wetenskappe, biochemie, mikrobiologie, chemie, fisika, wiskunde, rekenaarwetenskap, toegepaste wiskunde, geologie en plant- en dierkunde kan gesels. Smiddae word gewy aan uitstappies na verskillende instansies waar jy kan gesels met mense wat reeds as natuurwetenskaplikes in die arbeidsmark werk. Daarby is daar ook heelwat informele uitstappies en aktiwiteite. Inskrywings sluit op 16 Mei. Die koste beloop R875. Vir navrae, kontak Mariétta van den Worm by tel 021-808-3760, faks 021-808-3680 of e-pos mvdworm@sun.ac.za.
More
News
|