Wellington seëvier
2008-05-08
DIE eerste rugbyspan van Wellington het Saterdag uitstekend gevaar om in ’n wegwedstryd vir Montagu Villagers met 43-13 te klop. Die wedstryd is teen ’n geweldige pas gespeel en albei spanne het die bal lustig rondgegooi. Wellington het eerste bloed geruik toe die haker, Pieter Brynhardt, agter die doellyn gaan kuier het. Wellington se losskakel, Nicus Bergh, kon nie verdoel nie, maar het kort daarna self ’n drie gaan druk. Dié keer was Bergh suksesvol met die doelskop. Wellington se kaptein en agtsteman, Morné Coetzee, het kort voor rustyd oor die doellyn gebars vir ’n welverdiende drie om die telling 17-0 te maak. Kort daarna het Wellington se buitesenter, Daniël Theron, sy eerste van twee drieë gaan druk. Met Wellington wat die wedstryd sweerlik in die sakkie gehad het, het Villagers ewe skielik vlamgevat en twee opportunistiese drieë gedruk, wat albei verdoel is. Hierna het Wellington self na ’n hoër rat oorgeskakel met die skrumskakel, Marnus Hugo, wat gaan druk het. Kort voor die einde het Brynhardt en Theron elk nog ’n drie gaan druk om die wedstryd met 43-14 te wen. Wellington II het met 22-5 gewen terwyl Wellington III met 5-7 vasgeval het.
More
News
|