Vineyards-slot wys sy staal teen Standards
2005-06-30
DIE ontdekking van ’n groot aanwins het Saterdag Vineyards se 17-8 sege oor Young Standards gekenmerk.
Vineyards se staatmaker slot Thaamir Moerat kon weens griep nie die naweek vir sy span in aksie wees. Sy leemte het egter vir Arasat Abrahams kans gegee om te wys waartoe hy in staat is.
Abrahams, wat gewoonlik vir die klub se tweede span uitdraf, het ’n uithalerwedstryd gespeel en het ook een van sy span se drie drieë gedruk.
Die skrumskakel Anwar Dalvie en agsteman Abbas Hendricks was die ander twee driedrukkers.
John Koopman het met een doelskop geslaag.
In ’n wrede grap van die noodlot het aldrie Koopman se strafskoppogings pale toe in die regoppale vasgevlieg. Asof dit nie genoeg was nie, is die drie wat hy in die doodsnikke gedruk het, ook nie toegelaat nie.
Hoewel die skeidsregter aanvanklik die drie toegeken het, het een van die lynregters vinnig met sy uitgesteekte vlag nader gedraf.
Ná ’n kort verduideliking is die Vineyards slot, Ali Smit, met ’n geelkaart beboet vir trap in die skrum. Koopman se drie is gekanselleer en ’n strafskop aan Standards toegeken.
Die gebrek aan ’n bonuspunt beteken dat Vineyards nou met Silverleaf gesamentlik tweede op die Divisie 4 punteleer lê.
Vineyards se tweede en derde spanne het 13-8 en 34-0 gewen. Saterdag kom Vineyards in 'n wegwedstryd teen die ligavoorlopers, St Georges, te staan. Al Vineyards se ondersteuners kan verniet saamry met die bus wat om 11:30 vertrek.
More
News
|