Paarl lyk weer op sy stukke
2005-06-30
DIE Shepherd Paarl Rugbyklub het sover ’n wisselvallige seisoen beleef, maar Saterdag weer ’n opwaartse kurwe getoon toe hulle vir Franschhoek 31-14 oorrompel het.
Paarl se voorspelers het die grondslag vir die agterlyn om, sonder onnodige druk, na willekeur aan te val. Hier het die lostrio goed as ’n eenheid saamgespeel.
Die hardloopruimte wat daar aan die agterspelers gebied is, word geïllustreer deur die feit dat vier van die vyf drieë deur die agterlyn gedruk is.
Sake is verder in die Paarliete se guns versterk deur die goeie taktiese spel van hul losskakel, Corné van der Merwe.
Franschhoek is daarby ook verhoed om ooit werklik aan die gang te kom, weens die Paarl-span se hegte verdediging.
Die Franschhoekers het later by wyse van ongedissiplineerde spel uiting aan hul frustrasie gegee. Vier geelkaarte is uitgedeel, drie aan Franschhoek-spelers en een aan Paarl.
Paarl se Speler van die Wedstryd-toekenning is aan Stefan Grobbelaar toegeken.
Marco Martin (2), Jaco du Plessis, Brian Cramer en Gerhard Brand het Paarl se drieë gedruk. Van der Merwe was suksesvol met drie doelskoppe.
Paarl se eerste span lê tans vyfde op die Divisie 1 punteleer met 22 punte.
Primrose is die ligavoorlopers met 36, gevolg deur Valsbaai (33), Albions (31) en Young Peoples (30).
Paarl II en III het 11-5 en 25-5 verloor.
More
News
|