Roses maak bokkems van Saldanha
2005-06-30
DIE eerste span van Roses United het Saterdag in ’n belangrike ligawedstryd vir Saldanha op hul tuisveld 22-18 (7-11) geklop.
Die wedstryd is gekenmerk deur ’n goeie kombinasie van voorspeler- en agterlynspel. Die tuisspan het eerste bloed geruik, toe die flank Jonathan Ambrose vroeg in die wedstryd oorduik vir ’n drie.
Daarna was daar egter geen keer aan die jong span van Roses nie.
Ná ’n goeie breekslag van Danie Roman het Franzel September oorgeduik vir Roses se eerste drie.
In die tweede helfte het Roses nog meer beheer oor die wedstryd geneem met die losvoorspelers Igie Korabie (agsteman), en die flanke Franzel September en Shaunton Appollis aan die voorpunt.
Die vastevyf met Francois Mckenzie (stut), Danford Coert (slot), Denver Fortuin (slot) en John Arnoldus (haker) het ook goed saamgespeel.
Roses se ander twee drieë is deur die heelagter Earl Manie gedruk, wat weereens sy klas en flair ten toon gestel het.
Hy het gewys dat hy geen Boland-span in die steek sal laat nie. Hy het ook al die besoekers se ander punte aangeteken, twee doelskoppe en ’n strafdoel.
Agterlangs het Claude Arendse (senter), Charl Williams (vleuel) en Alrich Muller (vleuel) ook goed gespeel.
Roses se volgende wedstryd is op 9 Julie teen Darling op Pelikaanpark.
Die klub bied ook ná die wedstryd ’n piekniekdans in die Wellington Stadsaal aan.
Kaartjies is R40 en by die bestuurslede te koop.
More
News
|