Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Thomas verseker WP Pad-titel

Thomas verseker WP Pad-titel
 
2005-06-30


DIE Rhadsport-fietsryer, Garth Thomas, het verlede Saterdag verras toe hy met die louere weggery het tydens die WP Padkampioenskappe.

Thomas se sukses op die 125km sirkelroete by Klein Joostenberg was grotendeels te danke aan die samewerking van sy Coessa-span, die beroepspan van die Rhadsport Fietsryklub.

Thomas het vir Jaco Wasserfal (Maties) en Lourens Calitz (Richard Kane) na die eindstreep geklop.

Die Coessa-span het uit die staanspoor gewys dat hulle daarop uit is om die wedren so moeilik as moontlik te maak vir veral die CVT-ryers, wat sonder hul voorste jaers Wesley Cole en Chris Willemse (jnr) moes klaarkom.

Die verdedigende kampioen, Craig Butland, en die res van sy CVT-spanmaats is van die begin af onder druk geplaas toe Eben Marsch van Coessa in die eerste ronde van die bondel weggebreek het.

Die wedren het teen ’n slakkepas begin en is verder bemoeilik deur die voortdurende reënbuie wat die padoppervlak glad gemaak het.

In een van verskeie val-voorvalle is twee van die gunstelinge, Thaabiet Price (Coessa) en Jason Berry (CVT), so erg beseer dat hulle nie die wedren kon voltooi nie.

In die laaste 4km van die wedren het Thomas daarin geslaag om, met die hulp van spanmaats Ashley Kulsen, Eben Marsch en Durwin Benjamin, ’n wegbreek-groep saam met Wasserfal en Calitz te vorm.

Dié driestuks het enduit voorgebly en in die naelrit na die eindstreep was Thomas net te sterk vir die twee ryers wat in sy nek geblaas het.

In die junior wedren het die Paarl-ryer, Martin Malan, wat as die gunsteling beskou is, ook hard met moederaarde kennis gemaak en moes hy hom aan die wedren onttrek.

Sy spanmaat Rèniell Matthysen het tweede gekom.

Nog ’n ryer van die Paarl Fietsryklub, Marius Bester, het derde gekom in die o.16-afdeling terwyl Clint Hendricks van Rhadsport ook derde geëindig het in die o.14-afdeling.

Nathan Cornelissen (Rhadsport) en Bradwin Daniëls (Yorkshire) het in die o.12-afdeling onderskeidelik vierde en vyfde klaargemaak.



More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za