Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Polarama sal weer opstaan

Polarama sal weer opstaan
 
2008-05-15

Lise Beyers

DIE verwoesting van die bekende Paarl-Oos besigheid, Polarama Wholesalers, het ’n groot leemte gelaat in die klein- en groothandelbedryf van dié gebied.

Maar, vertel die Gaffoor-broers, Polarama sal binnekort oudergewoonte weer besigheid doen.

Dit was geen grap toe Polarama op die aand van 1 April in puin gelê is, toe ’n elektriese kortsluiting in die administratiewe afdeling ’n brand veroorsaak het nie.

Razak Gaffoor raak steeds emosioneel wanneer hy aan dié tragiese aand terugdink.

“Om ongeveer 21:15 het ons sekuriteitsmaatskappy vir ons in kennis gestel dat daar iets fout is by die winkel. Toe ons daar aankom, was ons verpletter om te sien dat die besigheid in ’n vuurpoel omskep is.

“Ons moes hulpeloos daar staan en kyk hoe 16 jaar se harde werk in vlamme op- gaan.”

Dit het brandweermanne tot die vroeë oggendure geneem om die brand onder beheer te bring, en hierna het die puin vir dae lank steeds gesmeul.

“Die verlies wat ons beleef het, is van onskatbare waarde. Dit was ’n leeftyd in wording om die besigheid te kry waar dit voor die brand was, en nou is dit byna asof ons van voor af moet begin.

“Hierdie tragiese voorval het vir ons hele familie erg getraumatiseer, maar ons is vasbeslote om weer op te staan.”

Daar was 35 mense werksaam by dié kleinhandel-reus ten tyde van die voorval.

Gaffoor het gesê dat baie van hulle steeds werksaam as sigaretverspreiders vir die maatskappy is, en die administratiewe personeel gaan voort met hul werksaamhede vanaf hul wonings.

Tans is die Gaffoor-broers in die proses om ’n tydelike alternatiewe perseel te bekom, waar Polarama se besigheid sal voortgaan.

“Ons is van die staanspoor af oorval met navrae van die publiek wat wil weet wanneer ons weer sal sake doen.

“Uit hul versoeke het ons eers agtergekom watter belangrike rol ons gespeel het in die gemeenskap. Ons het nooit besef dat die naam Polarama so gewigtig is in die Paarl nie.

“Ons hoop om binne die volgende maand hiér te begin besigheid doen.”

Maar, sê Razak, Polarama sal mettertyd weer rys op die verwoeste perseel in Klein Drakensteinweg, maar dit sal nie binnekort gebeur nie.

“Daar moet nou van vooraf bouplanne hiervoor opgetrek word en die hele proses moet mooi deurdink word, voordat die bouwerk begin.

“Maar wat seker is, is dat ons binnekort weer ons deure vir die publiek sal oopmaak.”

* The well-known wholesaler in Paarl East, Polarama, will shortly be doing business again after a devastating blaze.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za